YouVersion Logo
Search Icon

Plan Info

Duet Sample

Duet

DAY 6 OF 7

# ’n Spieëlbeeld van God se genade Vir Francois, ons oudste, se 21ste verjaardag, nooi die seuns se peetma’s ons na die Okavango. “Kom ons ses gaan vier die groot gebeurtenis in die Afrika-bos!” sê sy maande voor die tyd. So breek die langnaweek uiteindelik aan. Ons vlieg van Johannesburg na Maun, waarvandaan ons met ’n ses-sitplek vliegtuigie verder vlieg na die eiland waar ons blyplek geleë is. Nadat ons geland het, neem ’n viertrekvoertuig ons na die motorboot by ’n kaai in die veld wat ons na die oord op ’n piepklein eiland in die delta neem. Wat ’n groot bederf en seën word die naweek nie! Soggens en saans is daar ’n wildrit per motorboot deur die delta. Ons sien seekoeie en olifante, en die mooiste plate waterlelies wat geil in die vlak water blom. Ons beleef Afrika op sy beste! Maar die hoogtepunt is ’n enkele laatmiddagvaart op die makoro’s, die uitgeholde houtbote, eie aan die omgewing. Ons klim twee-twee in ’n boot terwyl die gidse en bootbestuurders hulle elk met ’n lang stuurstok in die hand voor in die boot staanmaak. Saggies gly ons bote deur die water. Teen sonsondergang seil ons geluidloos tussen die riete en die waterlelies. Die laatmiddag stilte is sonder gelyke. Toe ek vorentoe kyk, na waar die seuns se boot voor ons vaar, sien ek voor my die perfekte weerkaatsing van ons twee seuns vanuit die boot in die blink water. Vir my is dit ’n spieëlbeeld van God se seën en groot genade. God praat met ons deur prentjies. Is jy ’n toonbeeld van sy liefde? Hoe lyk die fotoverhaal van jul huwelik as ander daarna kyk? GEBED: Vader, herinner ons dat ons na u beeld geskape is en u verteenwoordigers op aarde is. Amen.

Scripture

Day 5Day 7

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy