YouVersion Logo
Search Icon

Plan Info

Duet Sample

Duet

DAY 3 OF 7

# Kyk met nuwe oë rond Buite ons agterdeur groei ’n bedding krismisrose. Dit is my gunsteling blomme, veral dié wat blou en pers is. Iemand het gesê dis van die min blomme wat lewend of selfs dood en gedroog mooi is. Waar ek gaan, merk ek dié blomme altyd op – van daar by die ou huis met die lae muurtjie oorkant die park tot by die kerkie op pad werk toe waar bloupers bosse welig onder die koeltebome blom. By die skool waar my kinders skool gegaan het, is ’n tuin met saggroen krismisrose wat tot laatsomer nog blom. Ek onthou deftige funksies waar bosse spierwittes gebruik is om die tafels mee te versier en die begrafnis van ’n kollega waar die massa krismisrose in alle kleure die afskeid moes temper. Vroegsomer verlede jaar, nog voor die plante in ons bedding begin blom, besluit ek om die kleur van ons krismisrose te probeer verander van dieppienk na ligblou. Ek koop die nodige plantkos en suurgoed en volg die instruksies getrou na. Maar ondanks al my fyn berekende planne, bly ons blomme so pienk as kan kom. En daar blom boonop vanjaar die minste blomme ooit! Nou, aan die einde van die blomseisoen, kan ek nie help om te wonder nie: Is dit ’n gebrek aan geduld van my kant af, of die feit dat jy nie moet probeer verander aan iets wat goed en reg is nie, wat ons bedding vanjaar so mistroostig en leeg gelaat het? Soms soek ons iets veel mooier en beter en sien dit wat juis pragtig is nie meer raak nie. Kyk met nuwe oë na dit wat bekend is en sien die skoonheid dáárvan raak. GEBED: Here, help ons om opnuut dit wat goed en mooi tussen ons is raak te sien. Amen.
Day 2Day 4

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy