Ek volg JesusVoorbeeld

Ek volg Jesus

DAG 7 VAN 7

Jy is 'n dissipel van Jesus Christus

Die term “dissipelskap” word dikwels gebruik. Wat beteken dit om ‘n dissipel van Jesus Christus te wees? Om ‘n dissipel van Jesus Christus te wees is om ‘n volgeling en leerling van Jesus Christus te wees. Ons sou selfs kon sê dit is om ‘n vakleerling van Jesus te wees. Dit beteken dus om saam met Jesus te wandel, by Hom te leer en om op te tree soos Hy opgetree het. 'n Dissipel van Jesus Christus is ‘n ware, waardige en heilige nabootser van Jesus Christus. Daarom is geestelike groei en die handhawing van die geestelike dissiplines soos onder andere Bybellees en gebed belangrik, want dit leer ons hoe ons moet leef as ware volgelinge en vakleerlinge van Jesus.

Om ‘n dissipel van Jesus Christus te wees spreek ook van dissipline en toewyding. Dit is dus om ‘n heilige lewenswandel te handhaaf — sodat ons vrymoedigheid kan hê om vir mense te sê soos Paulus geskryf het: “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is” (1 Korinthiërs 11:1 AFR53).

Terwyl ons oral vir mense van Jesus vertel, moet ons die sendingopdrag van Mattheus 28:19 (AFR53) ook ter harte neem. Dit leer ons dat ons mense moet aanmoedig om Jesus te volg en dat ons bereidwillig sal wees om hulle te ondersteun sodat hulle waardige volgelinge en vakleerlinge van Jesus Christus sal wees — wat sal leef soos Hy geleef het.

Leef voluit vir Jesus!

Gebed

Here, dankie dat U vir my ‘n voorbeeld nagelaat het wat ek kan volg. Help my om U te behaag deur ‘n toegewyde lewe te leef en ook om medegelowiges in hulle geestelike reis te ondersteun. Amen.

Aangaande hierdie leesplan

Ek volg Jesus

Jy het Jesus as jou persoonlike Saligmaker en Verlosser aangeneem. Baie geluk met die groot stap wat jy gedoen het. Welkom in God se ewige familie. Maar wat nou? In hierdie sewedagleesplan gesels ons oor die vaste wete en sekerheid van jou saligheid en wat dit beteken om ‘n dissipel van Jesus Christus te wees. Geniet die asemrowende reis en avontuur om ‘n kind van God te wees.

More

Ons wil graag Leef die Woord bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: leefdiewoord.co.za