Ek volg JesusVoorbeeld

Die Bybel
Die kosbaarste boek is die Bybel en as sodanig is dit vir ons die reël vir geloof en ons lewe. Dit wat jy in die Bybel lees kan jy met gerustheid glo, want God is self die outeur van die Bybel. Dit is dus die regte aanname om te maak dat God deur die Bybel aan die woord kom. Ja, God praat met ons deur die Bybel.
Hoekom is dit belangrik om Bybel te lees? Dit is noodsaaklik om die Bybel te lees, want dit sal jou help om geestelik te groei. Wat beteken dit? Die antwoord is eenvoudig: wanneer jy die Bybel lees en bestudeer sal jy meer oor die Hemelse Vader, Jesus Christus en die Heilige Gees leer. Jy sal ook meer aangaande die Christelike leefwyse leer en hoe om daarvolgens te leef. Dit gaan dus nie daaroor om bloot net die Bybel te lees nie, maar om ook daarvolgens te leef. Jesus het hierdie gehoorsaamheid aan Bybelse instruksies as wysheid beskryf — soos wanneer ‘n mens sy huis op ‘n rots bou.
Wanneer jy die Bybel lees, bid en vra die Heilige Gees om jou te help om dit wat jy lees te verstaan. Daar is heerlike waarhede om te ontdek en deel van jou lewe te maak. Die Heilige Gees sal jou graag hierin ondersteun.
Gebed
Dankie vir die Bybel, Here. Dankie dat U vandag nog met ons deur u Woord gesels. Heilige Gees, lei my asseblief in die hele waarheid en help my om ‘n lewe te leef wat getrou is aan dit wat ek in die Bybel lees. Amen.
Aangaande hierdie leesplan

Jy het Jesus as jou persoonlike Saligmaker en Verlosser aangeneem. Baie geluk met die groot stap wat jy gedoen het. Welkom in God se ewige familie. Maar wat nou? In hierdie sewedagleesplan gesels ons oor die vaste wete en sekerheid van jou saligheid en wat dit beteken om ‘n dissipel van Jesus Christus te wees. Geniet die asemrowende reis en avontuur om ‘n kind van God te wees.
More
Ons wil graag Leef die Woord bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: leefdiewoord.co.za









