Daaglikse Bemoediging vir VroueVoorbeeld

Raak rustig by Jesus
“Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik. Neem my juk op julle skouers. Kom leer van My, want Ek is sag en nederig van hart, en julle sal rus en nuwe moed vir julle lewe kry" (Matteus 11:28-29 NLV).
Die beeld wat Jesus hier in Matteus 11 gebruik, is dié van ’n os wat ’n swaar houtharnas dra. As hierdie harnas vir die os omgesit word, beteken dit dat daar ’n dag se harde werk op hom wag. Geen wonder dat so ’n harnas die os baie gespanne kon maak nie. Maar Jesus bied aan om die laste wat jou stres veroorsaak van jou skouers af te lig en te vervang met sy sagte juk en ligte las.
Wanneer jy te veel hooi op jou vurk het, raak jy maklik gespanne omdat jy wéét dat jy nie alles betyds kan klaarkry nie. Dis onnodig om jou langer dood te dra aan verantwoordelikhede wat vir jou te veel raak. Jesus wil sy rus vir jou kom aanbied (Matteus 11:28-29). Hy is die enigste Een wat volkome innerlike rus kan waarborg al bly jou omstandighede ook dieselfde. Daardie rus wat Jesus jou beloof, is die teenoorgestelde van die onrus en stres wat jy op die oomblik ervaar. Verruil dit gerus vir Jesus se rustigheid en vóél hoe die spanning en onrus uit jou vloei.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

As jy op die oomblik moeg en gespanne is, is dit maklik om op moedverloor se vlakte te beland. Nina Smit kom bemoedig jou in hierdie 7-dag-leesplan en sê jy moenie toelaat dat die negatiewe omstandighede van die oomblik jou aandag aflei, jou ontmoedig of jou aan God laat twyfel nie. Jy kan moed skep. God is volkome in staat om vir jou weer nuwe moed te gee!
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us