Daaglikse Bemoediging vir VroueVoorbeeld

Een dag op ’n slag
“Prys die Here wat ons dag na dag in sy arms dra. Hy is die God van ons verlossing. God wek ontsag in sy heiligdom. Hy is die God van Israel. Vir sy volk gee Hy mag en sterkte. Laat God verheerlik word” (Psalm 68:20, 36 NLV).
Een van die geheime om ten spyte van rampe, ellende en stres met jou lewe te kan aangaan, is dat jy nie verder as een dag op ’n slag moet dink nie. Sodra jy begin dink watter rampe daar in die toekoms met jou kán gebeur, het jy klaar die stryd teen stres en depressie verloor.
Gaan vandág met God se krag binne — Hy belowe om jou dag vir dag te dra (Psalm 68:20), nie maand vir maand of jaar vir jaar nie. Vra Hom vandag om jou te help met alles wat jy moet doen. Bid dat Hy vandag jou stres ligter sal maak en dat Hy die depressiewolke om jou kop met die son van sy liefde sal verdryf. Doen jou bes om vandag voluit met vertroue gelukkig te leef en los jou ellende by God (1 Petrus 5:7).
As jy op die oomblik nie kans sien vir jou struikelblokke nie, probeer nog net vandag uithou. Môre sál dit beter gaan!
Aangaande hierdie leesplan

As jy op die oomblik moeg en gespanne is, is dit maklik om op moedverloor se vlakte te beland. Nina Smit kom bemoedig jou in hierdie 7-dag-leesplan en sê jy moenie toelaat dat die negatiewe omstandighede van die oomblik jou aandag aflei, jou ontmoedig of jou aan God laat twyfel nie. Jy kan moed skep. God is volkome in staat om vir jou weer nuwe moed te gee!
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us