Oorkom die Strik van SelfbejammeringVoorbeeld

Oorkom die Strik van Selfbejammering

DAG 2 VAN 7

Vergelyking Veroorsaak Ontevredenheid

Tekens:

>> Vergelyk jouself met ander

>> Afgunstig oor ander se sukses

Selfbejammering teer op vergelyking. Wanneer ons voortdurend ons lewens met ander s'n vergelyk, kan ons begin voel dat ons bedrieg, oor die hoof gesien of minder waardevol is. In plaas daarvan om ander se voorspoed te vier, is ons gegrief daaroor en bevraagteken ons God se goedheid teenoor ons.

Die Woord waarsku ons egter dat afguns tot swaarmoedigheid en innerlike chaos lei. Wanneer jy dit beleef, kan dit baie help wanneer jy net weereens neerskryf wat God se roeping en plan vir jou lewe is, en dan daarop te fokus. Onthou, die Here het ons nooit geroep om ons wedloop soos iemand anders te hardloop nie.

Galasiërs 6:4 herinner ons daaraan om ons eie werke te ondersoek en ons te verheug in dit wat God in ons doen. Die geneesmiddel vir vergelyking is dankbaarheid en die regte fokus. Wanneer ons ons oë op Christus vestig en ons unieke reis vier, maak ons die leuens van selfbejammering stil en vind ons vrede in God se plan vir ons lewens. Wanneer ons na buite begin fokus, om ander aan te moedig in hul wedloop, draai ons oë weg van dit wat ons oënskynlik sien as 'n verlies of tekortkoming in ons eie lewe.

Getuienis

Op 'n stadium het ons 'n moeilike tyd in die bediening beleef. Dit het gelyk asof alles verkeerd loop. 'n Dierbare sendelingvriendin het ons in daardie seisoen besoek. Nadat sy na al ons probleme geluister het, het sy 'n interessante opmerking gemaak. Sy het gesê: "Julle moet meer tyd spandeer om dankie te sê vir die dinge wat julle wel het, in eenvoudige lof en aanbidding." Sy was reg! Ons het so gefokus op wat ons nie gehad het nie dat ons totaal vergeet het hoeveel van God se seën wel op ons gerus het! Kort voor lank het ons sommer baie beter gevoel, selfs al het ons omstandighede nie verander nie!

Gebed

Here, verlos my uit die strik van vergelyking. Vergewe my waar ek jaloers voel op wat ander het of bereik. Help my om hul deurbrake en prestasies te vier en werklik bly en gelukkig saam met hulle te wees. Ek bekeer my van jaloesie en afguns. Was asseblief my hart met die bloed van Jesus en reinig my van selfbejammering.

Aangaande hierdie leesplan

Oorkom die Strik van Selfbejammering

Selfbejammering is 'n vernietigende emosie wat in ons harte kan nesskop, veral wanneer dinge nie volgens plan verloop nie. Dit laat mens voel asof jy ‘n slagoffer is, totaal vergete en sonder uitkoms. Ook, dat jy jouself met ander vergelyk, hopeloos voel en aanhoudende negatiewe denke ervaar. Hierdie 7-dag oordenking sal jou help om die tekens van selfbejammering te herken, en jou toe te rus om dit te begin oorkom.

More

Ons wil graag Jericho Walls International Prayer Network bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.jwipn.com