Die krag van ’n biddende vrouVoorbeeld

Die krag van ’n biddende vrou

DAG 3 VAN 5

Wanneer ons eensgesind moet saamwoon

"Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saamwoon!" (Psalm 133:1, NLV).

Ná die vloed het Noag se nageslag al groter geword en hulle almal het een taal gepraat. Toe besluit die mense om ’n stad te bou met ’n hoë toring wat aan die hemel raak. Die Here het gesien wat hulle doen en gesê: “Nou kyk, as hulle, omdat hulle een taal praat, reeds aan die begin sulke dinge kan regkry, dink net wat sal hulle later kan doen. Niks sal meer vir hulle onmoontlik wees nie!” (Genesis 11:6, NLV, klem bygevoeg). God het hulle toe verskillende tale laat praat sodat hulle mekaar nie kon verstaan nie. Die mense het oor die hele aarde versprei en hulle het opgehou om die stad, wat Babel genoem is, te bou.

Hierdie verhaal wys vir ons watter krag daar in eenheid lê, watter krag dit aan mense bied wanneer hulle dieselfde taal praat. Omdat die mense van Babel eensgesind was, kon hulle enigiets bereik wat hulle wou. Maar die negatiewe gevolge van hulle eensgesindheid het hulle getref omdat hulle nie gedoen het wat God wou hê hulle moes doen nie. God moes hulle keer. Dit werk anders in ’n huwelik. Eenheid is wat ’n huwelik bymekaarhou en dit is wat God vir ons wil hê. Dit is sy wil dat jy en jou man eensgesind sal wees, dat julle dieselfde taal sal praat en dieselfde oortuigings en drome sal hê. Dan sal julle die doel kan bereik waarvoor God julle saamgevoeg het.

Bid dat jy en jou man eensgesind sal wees ten opsigte van julle doelwitte, gesindhede, voornemens, motiewe en optrede. Jesus het gesê: “As twee van julle hier op aarde saamstem oor enigiets wat julle van God wil vra, sal my hemelse Vader dit vir julle doen” (Matteus 18:19, NLV). Bid dat julle sal saamstem oor die dinge waaroor julle wil bid en wat julle wil hê. Wanneer julle dit doen, sal julle kragtige antwoorde op julle gebede sien. Niks sal in julle pad staan wanneer julle twee een en eensgesind is volgens God se doel vir julle lewe nie.

My gebed tot God
Here, ek bid dat U my en my man sal help om altyd eensgesind te wees en dieselfde taal te praat. Wanneer daar tye is wanneer ons nie goed met mekaar kommunikeer nie, wanneer dit lyk of ons mekaar se bedoelings of mekaar se woorde te dikwels verkeerd verstaan, bid ek dat u volmaakte wysheid en kennis altyd oor ons sal heers. In die krag van u Gees bid ek dat U ons altyd sal help om mekaar te verstaan en insig te hê in enige situasie waarin ons ons bevind. Help ons om die vyand, die vader van verwarring, leuens en bedrog, te weerstaan. Gee dat ons sal weier om plek in ons lewe te gee aan sy bose planne vir ons verhouding as man en vrou. Ek bid dat net U, Here, oor ons huwelik sal heers, dat net u Gees van liefde en vrede beheer oor ons lewe sal hê.
U sê in u Woord niks sal vir mense onmoontlik wees wanneer hulle een is nie (Genesis 11:6). Ek bid dat die eenheid tussen my en my man sal beteken daar is niks wat ons nié sal kan doen om ons huwelik sterk te maak nie; daar sal niks wees wat die vyand kan doen om tussen ons te kom nie. Stel ons in staat om eensgesind te bid sodat ons verstommende antwoorde op ons gebede sal sien, en sodat ons nie ’n greintjie van u goedheid en seën in ons lewe sal misloop nie.
Ek bid dit in die Naam van Jesus. Amen.

Aangaande hierdie leesplan

Die krag van ’n biddende vrou

As vrou het jy die soort gebedslewe nodig wat jou sal laat moed hou. Stormie Omartian help jou in hierdie vyf oordenkings en intieme gebede om in gebed te volhard: vir jouself, vir jou man en vir julle huwelik. Of jou man nou saam met jou bid of nie, gee al jou bekommernisse aan God oor en Hy sal julle in Hom sterk maak terwyl julle die toekoms saam aanpak.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us