Die krag van ’n biddende vrouVoorbeeld

Wanneer ek in gebed wil volhard
"Wees altyd vol blydskap. Moenie ophou bid nie. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God van julle verwag omdat julle met Christus Jesus verenig is" (1 Tessalonisense 5:16-18, NLV).
As vrou het jy die soort gebedslewe nodig wat jou sal laat moed hou, wat jou nie moedeloos sal laat word nie. Jy het ’n gebedslewe nodig wat jou in gebed sal laat volhard, wat jou sal laat aanhou bid en aanhou vra.
Toe God vir Abraham gesê het Hy wil self gaan kyk of Sodom dit verdien om verwoes te word, het Abraham vir die stad in gebed ingetree. Hy het gebid vir die onskuldige mense in die stad, hoeveel daar ook al sou wees. Abraham het vir God gevra of Hy Sodom steeds sou vernietig as daar 50 onskuldige mense gevind kon word, en die Here het geantwoord dat Hy dan die stad sou spaar. Toe daar nie 50 onskuldiges was nie, vra Abraham of God die stad steeds sou spaar as daar 45, 40, 30 of 20 onskuldige mense gevind kon word, het God dieselfde antwoord gegee. Elke keer wat Abraham gevra het, het God gesê Hy sou die stad spaar as daar soveel onskuldige mense gevind kon word. Uiteindelik het Abraham gesê: “Sê nou daar is net tien?” En God het geantwoord: “Ter wille van tien mense sal Ek dit nie verwoes nie” (Genesis 18:32, NLV). Daar was toe net vier onskuldige mense in Sodom, en God het dus die stad vernietig.
Ons het die soort volharding in gebed nodig wat ons, net soos Abraham, sal laat aanhou vra. So dikwels hou ons te gou op bid. Abraham het opgehou vra toe hy by tien mense kom. Miskien het Abraham opgehou bid omdat hy nie kon dink dat daar minder as tien onskuldige mense in Sodom sou wees nie. Of dalk het God teen daardie tyd sy punt bewys en sy voorneme geopenbaar. God het geweet die stad was goddeloos genoeg om verwoesting te verdien, maar Hy het die vier onskuldige mense gered: Lot, sy vrou en hulle twee dogters (Genesis 19:29).
Ook jóú gebede het die krag om te red. Hou daarom aan vra en hou aan soek. En moenie vra vir krummels wanneer God vir jou ’n feesmaal wil gee nie. Wanneer jy vir jouself, jou man en julle huwelik bid, vra God dat Hy jou sal laat volhard in gebed, selfs al lyk dit of jy vir die onmoontlike vra. Moenie net bid dat jou huwelik gered sal word nie; bid dat dit ’n goeie huwelik sal wees. Moenie net vra dat jou huwelik goed sal wees nie; bid dat dit vervullend sal wees. God sê nie nee vir dié dinge wat volgens sy wil is nie. As jou man dalk ’n sterk wil het en weier om hom aan God se wil oor te gee, hou aan bid dat God se wil sal geskied.
My gebed tot God
Here, ek bid dat U my sal help om in gebed te volhard, om te vra en aan te hou vra vir wat ek glo u wil is. Ek weet liefde, onselfsugtigheid, vriendelikheid, vrede en vrygewigheid is deel van u wil vir my verhouding met my man. Help my om aan te hou bid vir niks minder nie as die hoë standaard wat U vir ons huwelik stel. Openbaar aan my hoe U wil hê ek moet bid. Wys vir my wat U vir ons huwelik begeer. Help my dan om te bid sodat ons huwelik kan wees soos U dit wil hê.
Ek weet ek kan my man nie dwing om anders te wees as wat hy is nie. Ek kan nie sy wil verander nie, maar U kan sy hart aanraak en dit op U rig. Ek bid dat U dit sal doen. Mag hy U die Here van sy lewe maak. Help my om gereeld en kragtig en sonder ophou te bid, ongeag wat gebeur. Ek sê nou reeds vir U dankie vir die groot dinge wat U in ons albei se lewe en in ons huwelik gaan doen.
Ek bid dit in die Naam van Jesus. Amen.
Aangaande hierdie leesplan

As vrou het jy die soort gebedslewe nodig wat jou sal laat moed hou. Stormie Omartian help jou in hierdie vyf oordenkings en intieme gebede om in gebed te volhard: vir jouself, vir jou man en vir julle huwelik. Of jou man nou saam met jou bid of nie, gee al jou bekommernisse aan God oor en Hy sal julle in Hom sterk maak terwyl julle die toekoms saam aanpak.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us