Die krag van ’n biddende vrouVoorbeeld

Die krag van ’n biddende vrou

DAG 5 VAN 5

Wanneer ons antwoorde op ons gebede nodig het

"As julle aan My verbind bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry" (Johannes 15:7, NLV).

Ons almal het dringend antwoorde op ons gebede nodig, veral wanneer ons getroud is. Dit is vir ons moeilik om ons in te dink hoe mense ’n vervullende huwelik sonder God se hulp kan geniet. Tog ontvang ons nie outomaties antwoorde op ons gebede net omdat ons bid nie. God sê nie: Vra My vir enigiets en Ek sal sorg dat jy dit kry” nie. Nee, Hy sê: “As julle aan My verbind bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry” (Johannes 15:7 NLV). Met ander woorde, ons moet leef soos God van ons vra, tyd by Hom deurbring en sy Woord daagliks lees sodat dit in ons kan leef. Wanneer ons dít doen, kan ons vra wat ons begeer en ons sal dit ontvang.

Om in ’n verhouding met God te leef en in sy Woord te bly verander jou hart en maak jou al meer soos Jesus. Dit beteken wat jy in gebed vra, sal meer in pas met God se wil wees.

Jy sal antwoorde op jou gebede sien wanneer jy God vra om eers jou én jou man se verhouding met Hom te verdiep. Vra God om sy Woord elke dag in julle albei te laat wortelskiet. Bid dat die begeertes van jou hart in pas sal wees met God se begeertes, en bid dieselfde vir jou man. Dan sal julle volgens God se wil leef en julle sal God se seën in oorvloed as antwoorde op julle gebede ervaar.

My gebed tot God
Here, ek en my man begeer om antwoorde op ons gebede te sien. Ons kan nie ’n lewe van oorvloed geniet sonder dat U kragtig in ons lewe werk nie. Ek weet egter ook dat ons net antwoorde op ons gebede sal ontvang wanneer ons in ’n hegte verhouding met U leef en toelaat dat u Woord in ons leef. Ek bid dat U my en my man so styf teenaan U sal vastrek dat ons nie een tree sonder u leiding sal gee nie. Help ons om elke dag in u teenwoordigheid te vertoef. Maak dit vir ons moontlik om u Woord te verstaan en daardeur verander te word terwyl ons dit lees en bestudeer. Weef dit deur ons harte sodat dit deel sal word van elke faset van ons lewens en ons elke dag sterker sal beïnvloed.
Maak dit vir my en my man moontlik om volgens u wil te bid sodat die begeertes van ons harte in pas met u begeertes sal wees. Here, U weet hoe nodig ons u antwoorde op ons gebede het. Daarom bid ek dat U ons sal help om alles te doen wat nodig is om te keer dat ons gebede op enige manier gestuit word. Leer ons om gelowig te bid sodat ons kragtige antwoorde op ons gebede sal sien. Help ons om gereeld alleen met U te praat, maar ook gereeld saam te bid. Bowenal begeer ons dat u wil in ons lewens sal geskied. Lei ons daarom om te bid dat u wil sal geskied, met die vertroue dat u antwoorde vir ons net die beste sal wees. Ons loof U en sê nou reeds vir U dankie dat U ons gebede sal hoor en dit op u manier en volgens u tydsberekening sal beantwoord.
Ek bid dit in die Naam van Jesus. Amen.

Hierdie oordenkings en gebede is geneem uit DIE KRAG VIR ’N BIDDENDE VROU OORDENKINGS deur Stormie Omartian © Christelike Uitgewersmaatskappy. Besoek gerus www.cumbooks.co.za.

Aangaande hierdie leesplan

Die krag van ’n biddende vrou

As vrou het jy die soort gebedslewe nodig wat jou sal laat moed hou. Stormie Omartian help jou in hierdie vyf oordenkings en intieme gebede om in gebed te volhard: vir jouself, vir jou man en vir julle huwelik. Of jou man nou saam met jou bid of nie, gee al jou bekommernisse aan God oor en Hy sal julle in Hom sterk maak terwyl julle die toekoms saam aanpak.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us