Die krag van ’n biddende vrouVoorbeeld

Die krag van ’n biddende vrou

DAG 4 VAN 5

Wanneer ek God in ’n situasie moet vertrou

"Wees waaksaam! Staan vas in wat julle glo! Wees moedig! Wees sterk! Alles wat julle doen, moet in liefde geskied" (1 Korintiërs 16:13-14, NLV).

Wanneer daar probleme in jou huwelik opduik of ernstige situasies in jou lewe ontstaan, raak jy dalk bekommerd. Jy kan selfs ontsteld raak oor wat gebeur het. As jy nie beheer oor hierdie bekommernisse kry nie, kan dit aan jou en jou huweliksverhouding bly vreet. Dit kan vernietig wat jy en jou man saam opgebou het. Natuurlik moet jy daaroor bid, en verkieslik saam met jou man, as hy bereid is om saam met jou te bid. Dikwels bied ’n man egter weerstand om saam met sy vrou te bid, óf omdat sy hart hard is óf omdat hy nie glo in God se krag om gebede te verhoor nie. Of jou man nou saam met jou bid of nie, gee steeds al jou bekommernisse aan God oor.

Wanneer daar ’n ernstige probleem in jou huwelik ontstaan, of iets ontstellends gebeur met jou of rondom jou, en jy nie kan sien hoe dit ooit opgelos sal kan word nie, erken aan God dat jy nie al die antwoorde het nie, maar dat jy weet Hý het. Vertel vir God hoe jy voel en vra Hom wat jy wil hê Hy moet doen. Vra die Here om jou te help om Hom volkome te vertrou omdat jy weet, selfs al sien jy geen uitweg of goeie oplossing nie sien Hý dit wel. Jy voel dalk moedeloos, maar by die Here is daar altyd hoop. Vra Hom om vir jou vrede te gee te midde van jou beproewing. Sê vir Hom jy sal na Hom opkyk en Hom toelaat om jou reaksie op die situasie te bepaal, nie die situasie self nie. Kies om op die Here se liefde en getrouheid te vertrou. Vra Hom om die onmoontlike vir jou te doen. Hy kan en Hy sal.

My gebed tot God
Here, ek bring hierdie skynbaar onoorkomelike situasie waarin ek en my man ons bevind na U toe. Eerstens wil ek erken dat daar geen twyfel in my hart is dat hierdie situasie ten goede vir ons sal uitwerk nie. Ek sien nie nou ’n goeie uitkoms sonder ’n wonderwerk van U kant af nie, maar ek wil nie negatiewe gedagtes met my saamdra nie. Daarom gee ek al my twyfel en vrees in u hande oor. Ek weier om bitter te wees teenoor my man of enigiemand anders as ek glo hulle het hierdie probleem veroorsaak. Ek bely enige bitterheid voor U en vra dat U my daarvan sal vrymaak. Help my om op U te vertrou om die situasie reg te stel.
As ek of my man iets gedoen het wat tot hierdie situasie aanleiding gegee het, help ons om uit ons foute te leer. As dit nie ons skuld is dat ons in hierdie dilemma beland het nie, help ons om deur hierdie stormagtige waters te vaar sonder dat ons huweliksbootjie omslaan of sink, al lyk dit op hierdie oomblik of dit gaan gebeur. Gee dat ons mekaar nie sal beskuldig nie en help ons om na U op te kyk vir wonderbaarlike redding. Maak ons albei sterk in U terwyl ons die toekoms saam aanpak.
Here, ek het u vrede, krag en liefde nodig om oor my te heers. Maak my geloof sterker sodat ek op U sal vertrou ten spyte van wat ek sien of voel. Help my om sonder ophou te bid en standvastig in my geloof te bly, soos U in u Woord van my vra. Stel my in staat om hierdie omstandighede dapper te hanteer en nie moed te verloor nie. Ek bid dat alles wat ek doen en sê en dink, gemotiveer sal word deur u liefde in my hart. Ek kies vandag om in hierdie situasie op U te vertrou en ek vra dat U wonderbaarlike verlossing sal bewerk.
Ek bid dit in die Naam van Jesus. Amen.

Aangaande hierdie leesplan

Die krag van ’n biddende vrou

As vrou het jy die soort gebedslewe nodig wat jou sal laat moed hou. Stormie Omartian help jou in hierdie vyf oordenkings en intieme gebede om in gebed te volhard: vir jouself, vir jou man en vir julle huwelik. Of jou man nou saam met jou bid of nie, gee al jou bekommernisse aan God oor en Hy sal julle in Hom sterk maak terwyl julle die toekoms saam aanpak.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us