'n Hart soos Jesus s'nVoorbeeld

'n Hart soos Jesus s'n

DAG 7 VAN 7

Pas jou hart op

"Bo alles, wees versigtig met wat in jou hart aangaan. Wat jy dink, bepaal alles wat jy doen" (Spreuke 4:23, NLV).

Die Bybel sê jy leef agter jou hart aan (Spreuke 4:23). Inderdaad! Dit is presies wat jy doen! Jou hart is die setel van jou menswees. Dit simboliseer jou innerlike kant, daardie kant wat uitdrukking gee aan jou wil, jou waardes en jou diepste emosies en begeertes. Jou hart is jou lewe se enjinkamer. Dit voorsien die brandstof vir al die groot en klein keuses wat jy daagliks maak, asook vir al die positiewe en negatiewe emosies wat jy ervaar. Jou hart maak jou wie jy is. Jou hart is jy. Daarom sê Spreuke 4:23 jy moet jou hart altyd goed oppas. Jy moet keer dat donker gedagtes en vernietigende emosies gratis hier huisvesting kry. Jy moet keer dat destruktiewe gewoontes in jou binneste vorm aanneem. As dit begin gebeur, verander jou hart. Voor jy jou kom kry, volg jou hele lewe.

Plaas jou hart altyd in die Heer se hand. Doen dit dag vir dag, en aand vir aand. Vra die Here om sy hart altyd in jou binneste te laat klop. Vra Hom om sy eie hart van geregtigheid en integriteit voortdurend in jou lewe sigbaar te maak. Dan leef jy op die regte maniere agter jou nuwe hart se ritmes en hartklop aan. Gebruik jou nuwe hart wat God aan jou skenk. Dan verskaf hierdie innerlike enjinkamer presies die regte brandstof vir die res van jou lewe.

Hierdie oordenkings is geneem uit ’N HART SOOS JESUS S’N deur Stephan Joubert © Christelike Uitgewersmaatskappy. Besoek gerus www.cumbooks.co.za.

Aangaande hierdie leesplan

'n Hart soos Jesus s'n

Stephan Joubert kom herinner jou vandag dat ons nie net vir onsself moet leef nie. Ons moet ’n hart soos Jesus s’n hê! Plaas jou hart vandag in die Heer se hand. Vra Hom om sy hart altyd in jou binneste te laat klop. Vra Hom om sy eie hart van geregtigheid en integriteit voortdurend in jou lewe sigbaar te maak vir dié om jou.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us