'n Hart soos Jesus s'nVoorbeeld

Moenie jou hart verloor nie
"Gelukkig is dié wat sag van hart is, want die nuwe aarde sal hulle erfporsie wees" (Matteus 5:5, NLV).
Matteus 5:5 sê om ’n sagte hart te hê, is iets waardevols. Partykeer verloor mense hulle sagte harte iewers langs die lewenspad. Dan word hulle hard en koud en wreed. Dis is presies wat met die wrede Russiese leier, Josef Stalin, gebeur het. Daar word vertel dat hy by sy eerste vrou, Ekaterina, se begrafnis in 1907 gesê het sy was die enigste persoon wat ooit sy hart sag gemaak het. Met haar dood het sy laaste gevoelens van medelye gesterf. Wat ’n peperduur prys om te betaal! Miljoene mense het later in Rusland en elders onder Stalin se eie harteloosheid gesterf.
Baie mense ly vandag nog onder hartelose leiers, base en familielede. Keer asseblief dat so iets met jou gebeur – hartverlies, bedoel ek! Moenie jou hart verloor nie. Plaas dit elke dag in die Here se hand. Dan sal jou hart nooit vol selfsug wees nie. Of vol donker gedagtes nie, want dit is presies wat gaan gebeur as jy nie jou hart goed oppas nie. Daarom het jy vandag nogmaals ’n belangrike keuse om te maak – ’n lewensbelangrike een. Dit is naamlik om jou hart vir die hoeveelste keer aan die Here se goeie sorg toe te vertrou. Hy sal dit met liefde vir Hom en vir ander vul. Hy sal sorg dat sy hart in jou binneste klop, een wat vol deernis en omgee is. Hy sal sy sagte hart aan jou toevertrou.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Stephan Joubert kom herinner jou vandag dat ons nie net vir onsself moet leef nie. Ons moet ’n hart soos Jesus s’n hê! Plaas jou hart vandag in die Heer se hand. Vra Hom om sy hart altyd in jou binneste te laat klop. Vra Hom om sy eie hart van geregtigheid en integriteit voortdurend in jou lewe sigbaar te maak vir dié om jou.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us