'n Hart soos Jesus s'nVoorbeeld

Sterk maar nederig
"Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s’n wees" (Filippense 2:5, NLV).
Daar was eenkeer ’n berig in die Britse koerant, The Times, van die keer wat koningin Elizabeth saam met haar lyfwag, Richard Griffin, by Balmoral gaan stap het. Sy het gewone klere aangehad, asook haar kenmerkende kopdoek. Toeriste wat daar rondgeloop het, vra toe vir haar of sy al ooit die koningin ontmoet het. Sy het nee geantwoord, maar toe kyk sy na haar lyfwag en sê: “Maar, hy het!” Praat van humor en nederigheid!
Dieselfde dilemma het mense oorgekom wat onverwags in Jesus vasgeloop het. Ons lees juis in Johannes 4:19-24 hoe oorbluf die Samaritaanse vrou was toe sy agterkom wie Jesus regtig is. Sy kon skaars glo dat die Messias met haar by ’n waterput gesels het.
Jesus het nie na ons toe gekom met blink hemelse klere, of met ’n goue stralekrans om sy kop nie. Hy was sterk genoeg om nederig te wees. Hy het gekies om in die gestalte van ’n slaaf tussen ons rond te beweeg, soos Paulus in Filippense 2:7 skryf. Nee, hierdie was nie ’n tydelike rol wat Jesus aangeneem het nie. Dit sien ons wanneer Jesus in Johannes 13:12-17 sy dissipels se voete was. Dan verduidelik Hy dat Hy sy dissipels se voete was as Here en Leermeester (vers 13-14).
Kom ons leer by Jesus dat nederigheid die hartklop van ons eie lewe moet uitmaak. Dan is ons sterk in die Here.
Aangaande hierdie leesplan

Stephan Joubert kom herinner jou vandag dat ons nie net vir onsself moet leef nie. Ons moet ’n hart soos Jesus s’n hê! Plaas jou hart vandag in die Heer se hand. Vra Hom om sy hart altyd in jou binneste te laat klop. Vra Hom om sy eie hart van geregtigheid en integriteit voortdurend in jou lewe sigbaar te maak vir dié om jou.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us