'n Hart soos Jesus s'nVoorbeeld

'n Hart soos Jesus s'n

DAG 1 VAN 7

Vrygewig is ons hartklop, soos Jesus s’n

"Jesus sê toe vir hom: 'Vandag het daar verlossing vir hierdie huis gekom, omdat ook hierdie man ’n seun van Abraham is'” (Lukas 19:9, NLV).

Saggeus, van wie ons hier in Lukas 19:1-10 lees, was een van die rykste persone wat Jesus se pad gekruis het. As hooftollenaar was Saggeus in vandag se taal ’n multimiljoenêr. Wanneer Jesus sy lewe aanraak, onderneem hy spontaan om viervoudig te gaan regmaak waar hy mense gekul het. Hy het hom ook voorgeneem om 50% van sy besittings weg te gee (Lukas 19:8). Ons lees ook in Lukas 3 van arm mense wat vir Johannes die Doper kom vra hoe hulle God moet dien. Hy sê vir hulle as hulle twee stelle klere besit, moet hulle een stel vir die armes gee (vers 11). Hulle moet dus ook 50% weggee. Die rykstes en die armstes hoor dus presies dieselfde. Hulle moet vrygewig wees.

Begenadigdes klou nie aan hulle besittings vas asof dit is waaroor die lewe gaan nie. Hulle weet Jesus het Homself vir ons almal gegee. Daarom moet ons as Jesus se eietydse dissipels dieselfde optree. Ons gee onsself, ons tyd, ons besittings, ons lewens. Of ons net ’n bietjie besit, of ’n bietjie meer – ons roeping is dieselfde. Ons moet vrygewig wees. Of ons vrygewigheid net ’n snytjie brood insluit, of ’n kledingstuk, ’n gebed, of ’n paar rand – ons moet voltydse uitdelers van Jesus se goedheid wees.

Aangaande hierdie leesplan

'n Hart soos Jesus s'n

Stephan Joubert kom herinner jou vandag dat ons nie net vir onsself moet leef nie. Ons moet ’n hart soos Jesus s’n hê! Plaas jou hart vandag in die Heer se hand. Vra Hom om sy hart altyd in jou binneste te laat klop. Vra Hom om sy eie hart van geregtigheid en integriteit voortdurend in jou lewe sigbaar te maak vir dié om jou.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: cumbooks.co.za/pages/about-us