Delf dieper deur OpenbaringVoorbeeld

Delf dieper deur Openbaring

DAG 16 VAN 28

Die kerk verkondig die verlossende oordeel van God – Openbaring 10

Openbaring 10 fokus op die verkondigingstaak van die kerk, gesimboliseer deur die boekrolletjie wat Johannes van die sterk engel in ontvangs neem, internaliseer en verkondig.

Die oop boekrolletjie

’n Ander sterk, enorme en ontsagwekkende engel daal in ‘n tussenspel neer uit die hemel, met ’n oop boekrolletjie in sy hand wat God se boodskap vir alle volke, nasies, tale en konings bevat. Dié engel is van dieselfde statuur as die een wat in hoofstuk 5 die boekrol vir die Lam gee. Nóg ’n sterk engel sal later in hoofstuk 18 vir Babilon (Rome) se val verantwoordelik wees.

Die sterk engel se verskyning gaan gepaard met sewe donderslae wat ’n boodskap dra, maar vir eers geheim gehou moet word deur Johannes. Dit laat ’n mens dink aan Paulus wat ook goed in die hemel gesien het waaroor hy nie mag gepraat het nie (2 Kor. 12:4).

Die engel kondig die einde van die tyd aan wat met die blaas van die sewende trompet ingelei sal word. Dán sal God se misterie, sy verborge bedoelinge, sy doel bereik soos wat Hy dit as blye boodskap aan die profete verkondig het.

Dit is die een kant van die boodskap wat aan die kerk toevertrou is, die evangelie, die goeie nuus van verlossing.

Johannes word ook aangesê om die boekrolletjie uit die hand van die engel te gaan haal, dit te eet en die boodskap daarvan verder te gaan verkondig. Dit bevat die verlossingsplan vir die aarde wat aan die kerk toevertrou is, op soortgelyke wyse as wat die vorige boekrol in hoofstuk 5 die verlossingsplan van die heelal wat aan Jesus Christus toevertrou is, bevat. Dit kan daarom met die Woord van God verbind word en is iets wat eintlik vir die hele kerk gegee word. Johannes verteenwoordig dus hier die kerk as sodanig.

Die simboliek van die soet smaak (vgl. Eseg. 3:3) en die bitter uitwerking in die maag, dui op die ervaring wat gelowiges telkens het – die besig wees met God se Woord en sy opdragte aan ons, roer ons hart en bring ons in beweging, terwyl die uitwerking van die gehoorsaamheid aan die Woord baie keer tot konflik, stryd en teenstand in hierdie wêreld lei, soms selfs tot konflik in jouself en binne die gemeenskap van gelowiges.

Dit is die ander kant van die boodskap wat aan die kerk toevertrou is, die aankondiging van God se oordeel.

In beide hierdie aspekte van die boodskap van die kerk, lê ons opdrag. Aan die eenkant moet ons die genade van die verlossing met alles wat in ons is aan alle mense so ver as wat ons dit kan doen, verkondig. Aan die ander kant moet ons die sekerheid van die oordeel van God oor sonde en afvalligheid aan die hele wêreld verkondig. Dit is die somtotaal van ons getuienis. En belangrik, dit is ook nodig dat leiers (konings) dit hoor, nie net die gewone mense van die nasies van hierdie wêreld nie.

Boodskap en betekenis

Openbaring 10 beklemtoon die kerk se verantwoordelikheid om God se boodskap te verkondig, gesimboliseer deur Johannes se ontvangs en internalisering van die oop boekrolletjie. Die volle raad van God moet aan alle volke en leiers verkondig word, hoewel daar ook sekere dinge verborge sal bly, gesimboliseer deur die sewe donderslae se boodskap wat vir eers nie geopenbaar word nie.

Die engel kondig die naderende voleinding van God se plan aan, wat met die sewende trompet vervul sal word. Johannes se opdrag om die boekrol te eet – soet in die mond, maar bitter in die maag – verteenwoordig die vreugde van God se Woord, maar ook die swaarkry en teenstand wat met die verkondiging daarvan gepaard gaan. Die kerk se opdrag is dus tweevoudig: om met vreugde die blye boodskap van verlossing te bring én om die pyn te verduur wat die gepaardgaande boodskap van die onvermydelike oordeel oor sonde en afvalligheid vir hulle bring.

Dag 15Dag 17

Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Openbaring

Delf dieper deur Jesus se Openbaring aan Johannes. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Openbaring met insiggewende kommentaar op hierdie kragtige visioene wat steeds relevant is vir vandag. Jesus se boodskap is duidelik: “Ek kom gou!” Die seëls is gebreek, die trompette blaas, en die bakke van God se verlossende oordeel word uitgegiet. Openbaring trek die gordyn oop vir ’n geestelike werklikheid waarin gelowiges geroep word om getrou te volhard as koninkryk van priesters vir God, ten spyte van die bose aanslag op hulle lojaliteit.

More

Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.bybelskool.com