Delf dieper deur OpenbaringVoorbeeld

Die vyfde en sesde trompet pynig die mense sonder God se seël– Openbaring 9
Die oordele van die vyfde en sesde trompet tref veral die mense wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie. Die tragedie is dat hulle nooit die kloutjie by die oor kry nie. Hulle sien nie vir God raak in die ellendes wat hulle tref nie. Gevolglik kom hulle nie tot inkeer nie.
Let op dat die vyfde trompet ooreenkom met die vyfde seël deurdat die gelowiges in bewaring bly te midde van die verdrukking. Dieselfde geld vir die sesde trompet. Dit kom ooreen met die sesde seël in terme van die vier engele wat vroeër vasgehou is en nou losgelaat word.
Die vyfde trompet
Met die blaas van die vyfde trompet, die eerste “wee”, is daar ’n ster wat uit die hemel op die aarde val wat die bodemlose (onderaardse) diepte oopsluit, die plek waar bose geeste en demone gevange gehou word (vgl. die verhaal van Legio in Luk. 8:31). Dit is ook die tuiste van die dier uit die see, en die Satan, soos ons later in Openbaring 13:1 en 20:1-3 gaan lees.
Die ster wat hier ter sprake is, is ’n engel of boodskapper van God wat in opdrag van Hom boosheid op die aarde loslaat en moet onderskei word van die koning van die bodemlose diepte, Abaddon/Apollion (vers 11). Dieselfde engel tree in Openbaring 20 op om die draak, die duiwel en Satan, te bind in die bodemlose diepte.
Uit die skag van dié verskriklike plek het daar nie net rook geborrel wat die son en die lug verduister nie, maar ook sprinkane wat na die aarde geswerm het en die mense wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie, gepynig het met hulle skerpioensterte. Dit is ‘n skrikwekkende visioen van die effek wat bose geeste en demone op mense het.
Die sprinkane het soos perde gelyk wat vir die oorlog gepantser is met borsplate en daarby het hulle goue krone op hulle koppe, mensgesigte, vrouehare en leeutande gehad. Dit herinner aan die sprinkane met ruiters waarvan Joël 2 praat sowel as die agste plaag in Egipte. Hulle leier se naam was Abaddon (Hebreeus) of Apollion (Grieks) wat Verwoester beteken. Interessant genoeg was die Griekse god Apollos se teken dié van ’n sprinkaan. Keiser Domitianus het homself graag as Apollo incarnates beskou (Apollos wat mens geword het), wat beteken dat dié metafoor ’n fynbeplande stekie in die rigting van die keiser ingehou het (Du Rand, A-Z)!
Die feit dat hierdie oordeel vyf maande lank duur, dui nie soseer op die ongeveer jaarlange volle lewensiklus van sprinkane nie (min of meer 10 maande as eier, 2 maande as ’n nimf-voetganger en ’n maand as ‘n volwasse sprinkaan), maar op die feit dat die tyd afgemeet en beperk is deur die Here self.
Die sesde trompet maak ’n derde van die mense dood – Openbaring 9:13-21
Die sesde trompet
Waar die vyfde trompet die mense gepynig het, maak die oordeel van die sesde trompet, die tweede “wee”, ’n derde van die mense dood. Die oordeel word waarskynlik deur dieselfde engel wat die wierookbak met die gebede van die heiliges op die aarde uitgegooi het, uitgevoer. Dit laat ’n ongekende krag van vier engele van die groot Eufraatrivier af teen die mensdom los, in die vorm van ’n ontsaglike aantal ruiters op perde wat met drie plae verwoesting saai. Die kleure van die borsplate – vuurrooi, diepblou en swaelgeel – kom ooreen met die plae van vuur, rook en swael wat uit hulle monde borrel en die mense doodmaak. Hulle het ook sataniese slangsterte en kragtige kake soos dié van leeus wat hulle teen die mense gebruik.
Tóg het dié oordeel geen effek op die res van die mensdom nie. Hulle gaan doodeenvoudig voort om die lewelose afgode wat hulle self gemaak het, te aanbid, en daarmee saam ook nog demone (oortredings van die eerste tafel van die wet). Hulle kom nie tot inkeer van hulle wetsoortredinge ook van die tweede tafel van die wet nie. Vier goed word genoem: moorde (oortreding van die sesde gebod), toordery (pharmakōn – towerspreuke en dwelms), onsedelike gedrag (porneias – oortreding van die sewende gebod) en stelery (oortreding van die agste gebod).
Boodskap en betekenis
Die vyfde en sesde trompet bring oordele wat veral mense tref wat nie die seël van God het nie, en wys hoe geestelike blindheid hulle verhinder om tot inkeer te kom. Die vyfde trompet ontketen demoniese magte wat mense pynig; simbolies voorgestel deur sprinkane onder leiding van Abaddon/Apollion, die Verwoester.
Die sesde trompet lei tot die dood van ’n derde van die mensdom deur ’n massiewe leër ruiters wat plae van vuur, rook en swael bring. Die oorblywende mense weier egter steeds om hulle afgodery en sondes te laat staan, ondanks die waarskuwings. Hierdie trompette wys dus hoe God se oordele ’n oproep tot bekering is, maar dat harde harte selfs te midde van straf nie maklik verander nie.
Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Jesus se Openbaring aan Johannes. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Openbaring met insiggewende kommentaar op hierdie kragtige visioene wat steeds relevant is vir vandag. Jesus se boodskap is duidelik: “Ek kom gou!” Die seëls is gebreek, die trompette blaas, en die bakke van God se verlossende oordeel word uitgegiet. Openbaring trek die gordyn oop vir ’n geestelike werklikheid waarin gelowiges geroep word om getrou te volhard as koninkryk van priesters vir God, ten spyte van die bose aanslag op hulle lojaliteit.
More
Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.bybelskool.com