Delf dieper deur OpenbaringVoorbeeld

Delf dieper deur Openbaring

DAG 19 VAN 28

Die antichris en die vals profeet vervolg die kerk – Openbaring 13

Openbaring 13 voltooi die prentjie van die bose aanslag op die mensdom, met die bekendstelling van twee diere; die dier uit die see (antichris) en die dier uit die aarde (vals profeet – vgl. 16:13 waar die dier uit die aarde die vals profeet genoem word).

Saam met die draak (Satan) vorm hulle ’n gedugte bose driemanskap wat die mensdom met hulle mag beïndruk en van die Drie-enige God afvallig maak, behalwe dié wat deur God van die invloed daarvan beskerm word. Hulle teenstand sal in die volgende hoofstukke prominent geteken word, veral in die effek wat hulle op die mensdom het, sowel as op die gelowiges, totdat die wederkoms aanbreek en God hulle in die finale oordeel sal oorwin.

Die dier uit die see – die antichris – Openbaring 13:1-10

Die dier uit die see kan met die antichris verbind word in terme van die mag wat hy uitoefen op almal wat nié in die boek van die lewe van die Lam van God opgeskryf is nie (vgl. 1 Joh. 2:18, 22; 4:3; 2 Joh. 7; vgl. ook Jesus oor die “vals christusse” in Matt. 24:24 en Paulus oor die “wettelose mens” – 2 Tess. 2:3-12).

Die antichris is dus ’n direkte teenstander van die Here Jesus Christus, soos die draak die direkte teenstander van God self was (hfst. 12). Sy beskrywing kom in breë trekke ooreen met die vierde dier in Daniël 7 (10 horings, maar sewe koppe in plaas van vier), maar omvat eintlik die beskrywing van al vier diere van Daniël (leeu, beer, luiperd en die sterk dier).

Omdat die vier diere in Daniël 7 op vier koninkryke dui wat ’n mens kan identifiseer (Galdeërs, Mediërs-Perse, Grieke, Romeine), dui Openbaring se dier uit die see waarskynlik in die eerste plek op die Romeinse ryk (sterk dier van Daniël = die dier uit die see in Openbaring), maar in die tweede plek tog ook op die somtotaal van alle teenstand teen die geloofsgemeenskap, deurdat die dier uit die see in Openbaring trekke van al die koninkryke van Daniël bevat, d.w.s. ’n politieke mag.

Hy boots die Christus na in ’n poging om die mensdom te mislei om hom te aanbid. Selfs die opstanding uit die dood word deur die dier nageboots, wat lei tot groot bewondering en ’n groot aanhang. Enigiets wat dus téén Christus en sy navolging gesê word, word deur hulle opgeslurp en geglo, wat die getuienis van die kinders van God in die skadu stel, hoewel daar genadiglik ’n beperkte tyd daarvoor gegee word.

Dit is waarom dit so belangrik is vir gelowiges om hiervan kennis te neem, sodat hulle nie verras word deur die teenstand en die verguising wat daarmee gepaard gaan nie en hulle in geloof kan volhard tot die einde toe.

Die dier uit die aarde – die vals profeet – Openbaring 13:11-18

Die dier uit die aarde opponeer die ander persoon in die Drie-eenheid, die Heilige Gees, wat gesien kan word in die lewe wat dié dier gee aan die eerste een, sowel as aan die beeld wat van hom opgerig is. In Openbaring 16:13 word dié dier die vals profeet genoem, dié een wat sorg dat daar ’n godsdienstige begronding geskep word vir die aanbidding van die draak, die Satan, en die dier uit die see, die antichris. Hierdie dier is dus ’n direkte teenstander van die Heilige Gees, want soos die Heilige Gees die Here Jesus verheerlik, doen die dier uit die aarde dit vir die dier uit die see en die draak.

Daar is baie interpretasies oor presies waarop die simboliek van die vals profeet dui (vgl. Matt 24:24 waar Jesus praat oor die “vals christusse en vals profete” van die eindtyd). In Johannes se tyd kan die vals profeet waarskynlik die beste met die keiserkultus verbind word, maar in die verlengde van dié interpretasie kan dit eintlik met enige groot godsdienstige beweging verbind word wat nie net ’n ander god aanbid nie, maar spesifiek ook anti-christelik in opset is.

Die godsdienstige begronding word gesoek in wondertekens (vuur uit die hemel soos Elia van ouds), magsvertoon (genesings) en afgodery ('n beeld word aanbid) waarmee demoniese verskynsels ('n beeld wat praat) gepaard gaan.

Die uitwerking daarvan is dat die denk- en werkvermoë van die mensdom wat hulle volg, in diens van die bose driemanskap geplaas word, wat een van die maniere is om die merk op die voorkop en die merk op die hand se simboliek te verklaar (Du Rand). Dit beteken dan ook dat dít die manier is waarop gelowiges van die ekonomie uitgesluit kan word, as hulle nie aan die heersende godsdienspraktyke wil deelneem nie, soos reg deur die eeue gebeur het in lande waar mense verbied word om die Here Jesus te dien en volg.

Die getal 666 moet dus in die lig van hierdie interpretasie uitgelê word, eerder as dat die numeriese getalwaarde van name uitgewerk word, om ’n persoon daarmee te verbind. 666 staan dus vir die doel van die dier se agenda om die gelowiges ekonomies te isoleer. Wie hierin insig het, kan planne maak om die dier se invloed minder te maak.

Dit is egter ook moontlik dat ‘n mens die getal op ‘n simboliese wyse kan verbind aan iemand soos keiser Nero. Hy was ‘n bloeddorstige vervolger van die vroeë Christusvolgelinge. Sy naam en titel in Hebreeus (Nero Ceasar – נרונקסר) het 'n numeriese waarde van 666.

Nero sou as 'n simboliese figuur van alle toekomstige vervolgings deur heersers en hulle regerings gesien kon word.

Boodskap en betekenis

Openbaring 13 skets die volskaalse aanval van die bose driemanskap op die mensdom deur onder andere politieke magte wat poog om Christus na te boots. Hulle word egter uitgeken aan die feit dat hulle mense dwing om aan hulle gehoorsaam te wees, eerder as aan die Here self.

Hierdie magte het egter ‘n beperkte invloed en sal uiteindelik deur God oorwin word. Ons roeping is om standvastig te bly, ongeag die teenstand en lyding wat ons mag ervaar, o.a. vanweë die subtiele dwangbuis van “politieke korrektheid” waar jy gedwing word in te val met die heersende ideologie.

Die politieke magte het ‘n religieuse en geestelike kant ook, waar valse profete die politieke magte van die dag ter wille is, en eerder hulle ideologieë napraat as om die Woord suiwer te verkondig.

Gesamentlik stel die bose driemanskap dus ‘n sisteem in plek om gelowiges ekonomies, sosiaal en polities uit te sluit van die gemeenskap indien hulle nie met die heersende ideologie wil saamwerk nie.

Die merk van die dier (666) dui op hierdie bose sisteem van onderdrukking, eerder as op ‘n spesifieke persoon.

Die visioen herinner ons egter daaraan dat al is die wêreldse magte voortdurend teen Christus en die ware gelowiges in opstand, hulle deur insig en geloof sal kan volhard totdat God finaal sal oorwin.

Dag 18Dag 20

Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Openbaring

Delf dieper deur Jesus se Openbaring aan Johannes. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Openbaring met insiggewende kommentaar op hierdie kragtige visioene wat steeds relevant is vir vandag. Jesus se boodskap is duidelik: “Ek kom gou!” Die seëls is gebreek, die trompette blaas, en die bakke van God se verlossende oordeel word uitgegiet. Openbaring trek die gordyn oop vir ’n geestelike werklikheid waarin gelowiges geroep word om getrou te volhard as koninkryk van priesters vir God, ten spyte van die bose aanslag op hulle lojaliteit.

More

Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.bybelskool.com