Delf dieper deur OpenbaringVoorbeeld

Delf dieper deur Openbaring

DAG 18 VAN 28

God beskerm sy kerk te midde van ernstige vervolging – Openbaring 12

Openbaring 12 tot 14 fokus weereens op die tydperk tussen die eerste koms van Jesus, sy geboorte en sy tweede koms, die wederkoms. Johannes deel met ons die manier waarop God sy verlossende oordeel in die geskiedenis uitwerk.

Openbaring 12 skets die Messiaanse geloofsgemeenskap (swanger vrou) waaruit die Christus gebore is en die stryd met die draak (vers 1-6), die stryd tussen Migael en die draak in die hemel (vers 7-12) en die draak se verdere oorlog teen die geloofsgemeenskap op aarde (vers 13-17).

Die stryd van die geloofsgemeenskap met die draak – Openbaring 12:1-6

Die swanger vrou word voorgestel as beklee met die son, die maan onder haar voete en ’n kroon van twaalf sterre op haar kop. Sy stel die Messiaanse geloofsgemeenskap voor waaruit die Christuskind gebore word.

Die draak word verder in die hoofstuk beskryf as “die slang van weleer” (Gen. 3), “wat duiwel en Satan genoem word”, die verleier van die hele bewoonde wêreld. Hy is moorddadig en gewelddadig met sogenaamde mag – sewe krone – wat oortref word deur die heerskappy van die Lam – baie krone – soos dit in Openb. 19:12 beskryf word. Hy kry dit reg om ’n derde van die hemelwesens (sterre) saam met hom te neem in sy opstand teen God en sy Seun.

Die draak wil die Christuskind verslind, maar kan Hom nie bykom nie, omdat Hy met sy opstanding en hemelvaart na God se bestaan opgeneem is vanwaar Hy bestem is om die nasies te regeer, soos Psalm 2 voorspel het.

Die geloofsgemeenskap word in die tyd van (beperkte) verdrukking (1 260 dae = 3 ½ jaar) deur God versorg. Die derde perikoop sal van vers 13 af verder op die stryd van die kerk uitbrei.

Die stryd tussen Migael en die draak in die hemel – Openbaring 12:7-12

Daar is redelik verskil van mening oor die interpretasie van hierdie stryd tussen Migael en die draak. Sommige dink dat dit na ’n oergebeurtenis verwys (Du Rand) en ander dat dit na die kruisgebeure verwys. Ek is geneig om eerder met laasgenoemde interpretasie te werk:

  • Enersyds omdat dit meer sin maak van die parallelisme van die drie gedeeltes in hoofstuk 12:
    • die stryd beskryf in terme van vervulling van die Messiaanse verwagting in die geboorte, opstanding en hemelvaart van Jesus Christus (vers 1-6),
    • die hemelse stryd spesifiek in die kruisgebeure wat die verlossing gebring het (vers 7-12) en
    • die aardse stryd in die verkondiging van die evangelie deur die kerk in die tyd tussen eerste koms en wederkoms (vers 13-17).
  • Andersyds omdat dit vir my meer sin maak rakende die visioen van die Satan in vers 9, dat Hy sy posisie in die hemel verloor het, saam met sy engele, anders as bv. in vers 4 waar hy nog in beheer is en toegang tot die hemel het. Dit korreleer ook beter met Jesus se uitspraak dat Hy die Satan soos ’n weerligstraal uit die hemel sien val het as gevolg van die bediening van bevryding deur sy dissipels (Luk. 10:18) wat uiteraard in die kruisgebeure sy hoogtepunt bereik.

Die funksie van dié gedeelte is om die gelowiges te bemoedig dat die mag van Satan gebreek is, dat die oorwinning reeds oor hom behaal is en ook uiteindelik volledig sal wees.

Die verlossing en heerskappy van God het deurgebreek en die aanklaer van die gelowiges het sy posisie in die hemelse hof verloor het.

Dit word sigbaar in die standvastigheid van die gelowiges wat nou op grond van die bloed van die Lam (kruisgebeure) hulle getuienis, selfs in doodsgevaar, onbevreesd en vrymoedig kan volhou. Daaroor is die hemel bly, al beteken die val van die Satan dat die aarde nou vir ’n kort tydjie onder sy woede gaan deurloop.

Die draak se oorlog teen die geloofsgemeenskap op aarde – Openbaring 12:13-18

Die Satan sit sy vervolging van die geloofsgemeenskap voort (vers 13 sit eintlik vers 6 voort), maar moet telkens rekening hou met die sorg wat God vir hulle dra, uitgedruk met die vlerke van die arend, die versorging in die woestyn en die aarde se insluk van die stroom water wat die draak gebruik om die geloofsgemeenskap te probeer vernietig. Die tyd word ook beperk soos dit al in vers 6 aangedui is.

Die stryd teen die geloofsgemeenskap deur die geslagte is egter sonder ophou, maar hulle bly standvastig deur God se gebooie na te kom en die getuienis van Jesus vas te hou. Hulle is gehoorsaam aan God se wil vir die lewe en bly getuig van sy goedheid en genade in Jesus Christus, dinge wat vir tyd en ewigheid belangrik sal bly.

Boodskap en betekenis

Die Messiaanse geloofsgemeenskap word met hierdie visioen gerusgestel dat die Here Jesus reeds sy posisie in die hemel ingeneem het en vandaar nie net regeer nie, maar ook sorg vir sy mense.

Die Here Jesus het met sy kruisdood en opstanding nie net Satan se posisie in die hemel as aanklaer beëindig nie, maar vir alle gelowiges die oorwinning oor die sonde en die dood behaal.

Satan sit uiteraard sy aanvalle op aarde op die geloofsgemeenskap voort, maar die Here gryp op verskillende wyses in en beskerm sy mense deur verskeie ingrypings, soos die simboliek van die arendsvlerke en die aarde wat Satan se vernietigingspogings neutraliseer, illustreer.

Alhoewel gelowiges dus konstante teenstand ervaar, kan hulle vashou aan God se gebooie en getrou bly aan hulle getuienis. Die uiteindelike oorwinning van God se koninkryk is seker.

Dag 17Dag 19

Aangaande hierdie leesplan

Delf dieper deur Openbaring

Delf dieper deur Jesus se Openbaring aan Johannes. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Openbaring met insiggewende kommentaar op hierdie kragtige visioene wat steeds relevant is vir vandag. Jesus se boodskap is duidelik: “Ek kom gou!” Die seëls is gebreek, die trompette blaas, en die bakke van God se verlossende oordeel word uitgegiet. Openbaring trek die gordyn oop vir ’n geestelike werklikheid waarin gelowiges geroep word om getrou te volhard as koninkryk van priesters vir God, ten spyte van die bose aanslag op hulle lojaliteit.

More

Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.bybelskool.com