Leesplan inligting

Here, Ek Wil Sien!Voorbeeld

Here, Ek Wil Sien!

DAG 6 VAN 7

DAG 6 Here, vergroot my perspektief

"Toe Saggeus hoor dat Jesus deur die dorp stap, het hy probeer om Hom tussen die mense deur te sien te kry. Maar hy kon nie, want hy was te kort. Toe maak hy ‘n plan: hy het gou vooruitgehardloop en in ‘n wildevyeboom gaan klim wat langs die pad gestaan het waar Jesus sou verbyloop" (Lukas 19:3,4 DB).

In die spesiale skool waar ek skoolgehou het, was daar ook dwergies. Die arbeidsterapeute het spesiale kussings op die saalstoele vir hulle gesit sodat hulle hoog genoeg kon sit om mooi te kan sien wat op die verhoog gebeur.

As ek lees van Saggeus, die tollenaar, wat kort van postuur was, kan ek my indink hoe hy in 'n skare mense gesukkel het om bo-oor die mense se koppe te sien wat aangaan. Hy was aan die hoof van die invordering van belasting en was ‘n skelm, want hy het gereeld meer gevra as wat nodig was en het die geld vir homself gevat. Tog bedink hy eendag ‘n slim plan toe hy hoor Jesus kom daar verby. Hy hardloop vooruit en gaan klim in ‘n boom sodat hy beter kan sien. Dalk het hy gehoor van Jesus se wonderdade. Dalk het hy verlang om hierdie wonderlike Man van God van naderby te sien. Vanuit die boom kon hy nie net ver sien nie, maar hy kon ook ‘n beter geheelprentjie van alles wat in die pad gebeur, kry.

Ek en jy het ook maar dikwels ‘n Saggeus binne-in ons. Behalwe dat ons ook soms oneerlik is, is ons soms onbedagsaam teenoor ander en maak mense ongelukkig deur wat ons sê en doen. Soms dink ons niemand sien ons raak nie. By Saggeus se storie leer ek dat dit soms nodig is om ‘n breër perspektief van die situasie te kry. Wanneer die lewe om ons ons begin druk, veroorsaak ons vrese en bekommernisse dat ons nie meer die einddoel kan sien nie. Ons verloor as’t ware perspektief. Ons verloor ons geloof.

Byvoorbeeld: Ek moet aftree, maar ek voel nog glad nie oud nie. Ek is siek en bekommer my morsdood oor wat van ons gaan word. Ek is alleen en wanhopig, want ek dink nie ek beteken meer iets vir iemand nie.

Jesus het by Saggeus gaan eet. Jesus se vergifnis en liefde het hom oorreed om jammer te sê vir al sy verkeerde dinge en om al die geld terug te gee wat hy gesteel het.

Klim vandag in Saggeus se boom. Gaan sit op ‘n plek waar niemand jou kan pla nie. Lees jou Bybel. Wag op Jesus. By Hom sal jy perspektief en vergifnis kry sodat jy ook kan deel in al die wonderlike dinge wat Hy vir jou beplan. Vertrou Hom dat Hy jou raaksien, alles van jou weet en jou liefhet.

Gebed: My Hemelvader, help my om nie net heeltyd teen my probleme vas te kyk nie. Maak my geestesoë oop sodat ek op U sal wag. Dankie dat U ook by my wil kom eet. Dankie dat u vryspraak ook vir my is. Amen.

Lukas 19:3,4

Psalm 27:14

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Here, Ek Wil Sien!

BESKRYWING: Ons kyk so maklik vas teen die uiterlike dinge in ons lewe. Ons verloor hoop, perspektief en geloof omdat ons bang en moedeloos raak. Kom ervaar hierdie week saam met my hoe hoog en wyd en diep God se genade...

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid