Leesplan inligting

Here, Ek Wil Sien!Voorbeeld

Here, Ek Wil Sien!

DAG 1 VAN 7

DAG 1 Vader, open my geestesoë

"Ek bid verder dat God julle geestelike oë sal oopmaak sodat julle sal kan besef wat julle van Hom kan verwag noudat Hy julle na Hom toe geroep het. God gaan vir julle, as sy spesiale kinders, gee wat Syne is. Hy gaan julle skatryk maak" (Efesiërs 1:18 DB).

Ek onthou nog so goed die dag toe my dogtertjie van 3 jaar oud uit die kamer gestap kom met my hoëhakskoene aan. Ek maak toe dadelik ‘n ophef: “Goeiedag, Mevrou! O, u lyk so pragtig in daardie mooi skoene!” Maar sy was dadelik ontsteld. “Mamma, jy sien nie eers hoe siek my babatjie is nie!” Verontwaardig wys sy haar vingertjie na haar pop wat sy in die stootkarretjie rondstoot.

Ek dink altyd hieraan wanneer ek Efesiërs 1:18 lees waar Paulus vir die gemeente van Efese bid dat God hul geestelike oë sal oopmaak. Die Amplified Bible praat van: “… the eyes of your heart (the very center and core of your being) …”

Dikwels gebruik ons net ons verstand om God se Woord te beredeneer en uit te lê. Ons sien net die hoëhakskoene, die uiterlike dinge, raak. God wil hê dat ons ook in staat moet wees om met ons hárt die dieper dinge te sien en te hoor wat Hy alles vir ons in gedagte het.

Ons leef in ‘n gebroke wêreld. Geld raak al hoe belangriker en ons jaag ons dae om sodat ons net nog meer kan bymekaarmaak. Omdat ons ons blind staar teen die uiterlike dinge en soms verkeerde keuses maak, verstaan ons nie God se Woord nie. Dis dan wanneer ons sommer bang en moedeloos raak en voel dat God ons nie raaksien nie.

Daarom herinner Paulus ons: Bid dat God jou geestesoë sal oopmaak! Vra Hom om jou te help om raak te sien dat daar vir jou hoop in Jesus Christus is. Deur sy dood en opstanding het Hy seker gemaak dat as ons in Hom glo, ons eendag saam met Hom in sy ewige woning sal kan leef. Dis ‘n plek waar daar geen sonde, hartseer en pyn sal wees nie. Sodra ons dit glo, verstaan ons God se wêreld beter.

Gebed: My Hemelvader, ek bid dat U asseblief my geestesoë sal oopmaak sodat ek u liefde vir my kan raaksien en weer hoop vir môre sal hê. Amen.

Efesiërs 1:18

Jesaja 43:1-7

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Here, Ek Wil Sien!

BESKRYWING: Ons kyk so maklik vas teen die uiterlike dinge in ons lewe. Ons verloor hoop, perspektief en geloof omdat ons bang en moedeloos raak. Kom ervaar hierdie week saam met my hoe hoog en wyd en diep God se genade...

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid