Leesplan inligting

Here, Ek Wil Sien!Voorbeeld

Here, Ek Wil Sien!

DAG 3 VAN 7

DAG 3 Fokus op Jesus

“Nee,” sê Jesus, “dis nie een van hulle se skuld nie. God wil juis hierdie man se blindheid gebruik om te wys wat Hy vir mense kan doen" (Johannes 9:3 DB).

Ons lees hier in Johannes nege van ‘n man wat blind was van sy geboorte af. Jesus se dissipels wou toe dadelik weet wie se skuld dit is dat die man blind is. “Het hy self vir God ongelukkig gemaak of was dit sy ouers?" wou hulle weet (Johannes 9:2 DB).

Ek is dol oor Jesus se antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word” (Johannes 9:3).

Ek het vir baie jare by ‘n skool vir serebraal- en fisiese gestremde leerders skoolgehou. Elke dag het ek my verwonder oor hierdie kinders se uithouvermoë, moed en geloof. Ek het menige dag stom gestaan vir die vreugde wat uit ‘n gesiggie kan straal, al het daardie kindjie nie hande of bene nie of sit hy in ‘n rolstoel of loop met ‘n loopraam. Male sonder tal het dit deur my gedagtes geflits dat ons God se krag en genade net nooit sal kan meet of verstaan nie. Hierdie kinders leef hul getuienisse uit bloot net deur die vreugde wat hul in die klein dingetjies ervaar en deur die deursettingsvermoë wat hul aan die dag lê.

Dit het my soveel keer bemoedig om te sien hoe iemand wat nie hande het nie met die nodige aanpassings ook op ‘n rekenaar kan tik. Jy is sonder woorde as jy die oorstelpte vreugde sien van iemand wat weer regop kan kom na ‘n groot rugoperasie en wat verwonderd is wanneer hulle vir die eerste keer met ‘n loopraam kan loop!

Jesus self het gesê dat ons dit moeilik sal hê in hierdie wêreld (Johannes16:33). Die mens is geskape om self keuses te kan uitoefen. Sommige mense wil nie ‘n lewe kies van liefde en vrede nie omdat hulle harte vol sonde, haat en onvergewensgesindheid is. Dit het baie hartseer en ellende tot gevolg. Ons moet onthou: Dis nie Jesus of God se skuld as dinge verkeerd gaan nie!

Gelukkig sê Jesus ons moet moed hou, want Hy het die wêreld klaar oorwin! Blindheid, doofheid, fisiese gebreke, armoede, moord, oorlog, finansiële nood of ernstige siektes is nie vir Hom ‘n verskrikking nie. Hy sien ons alreeds as volmaak geskape saam met Hom in sy hemelse paradys. Kom ek en jy leef vandag in hierdie waarheid ons liefde vir Jesus uit!

Gebed: My Hemelvader, gee dat ek met alles in my op U sal bly fokus. Help my om my nie blind te staar teen die ellende van my omstandighede in hierdie wêreld nie, maar laat die versekering om eendag by U te wees my vreugde wees. Amen.

Johannes 9:3

Johannes 16:33

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Here, Ek Wil Sien!

BESKRYWING: Ons kyk so maklik vas teen die uiterlike dinge in ons lewe. Ons verloor hoop, perspektief en geloof omdat ons bang en moedeloos raak. Kom ervaar hierdie week saam met my hoe hoog en wyd en diep God se genade...

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid