Leesplan inligting

Here, Ek Wil Sien!Voorbeeld

Here, Ek Wil Sien!

DAG 2 VAN 7

DAG 2 Ek wil nie 'n blindemol wees nie

"Julle moet julle dus nie aan hierdie mense steur nie. Hulle is soos blindes wat ander blindes probeer lei. Julle kan net dink wat met sulke mense gebeur: kort voor lank beland hulle almal in ‘n sloot" (Matteus 15:14 DB).

As kinders het ons graag blindemol gespeel. Wanneer ons ‘n groot groep maats was, is twee geblinddoek en moes die een die ander een lei terwyl hulle saam na die res moes soek wat weggekruip het. Nodeloos om te sê: ten spyte van die aanvanklike groot gelag vir die twee wat oor alles val en wat mekaar in teenoorgestelde rigtings wil trek, het die speletjie altyd in trane geëindig, want daar was altyd êrens een wat seergekry, geval of kwaad geword het.

Toe ek ons teksvers lees, het ek dadelik aan hierdie blindemolspeletjie gedink. Jesus verwys in hierdie gedeelte na die Fariseërs wat so maklik die mense met die dubbele standaarde waarvolgens hulle die Bybel interpreteer het, mislei het. In vers twee wil hulle weet hoekom Jesus se dissipels hulle nie steur aan die tradisies en gebruike van hul voorvaders soos byvoorbeeld om hande te was voor ete nie.

Net soos met ons blindemolspeletjie het die Fariseërs se manier mense maklik laat val en onnodige worsteling met God veroorsaak, want hulle wou Jesus nie volg nie en daarom het hulle nie regtig God se Woord verstaan nie. Hulle wou byvoorbeeld hê die mense moes hande was voor ete, maar het dit as sonde beskou wanneer Jesus iemand in nood op ‘n Sabbatdag help.

Dalk is dit tyd dat ek en jy mekaar weer daaraan herinner dat om ‘n verhouding met Jesus Christus te hê baie belangriker as al die tradisies en gebruike is. Kerk gaan nie oor die hoeveelheid koffie wat ons bedien of die gekleurde ligte wat flikker nie. Dis nie belangrik wie ryk en wie arm is nie. Dis belangrik dat ons vir mekaar omgee en dat ons Jesus se liefde uitdeel. Dis belangrik dat ons vir mense vertel hoe lief God ons het en dat Hy sy Seun gestuur het om te kom sterf ter wille van al ons sonde.

As ons dit glo, is ons nie vasgebind aan die sonde wat ons so maklik in ‘n sloot van hooploosheid laat beland nie. Ons is vry!

Mag ons vandag kies om die blinddoek van ons oë af te haal sodat ons God se genade kan raaksien.

Gebed: My Hemelvader, maak my oë oop sodat ek u liefde en genade kan raaksien en help my om dit ook met ander te deel. Amen.

Matteus15:14

Psalm 40:4,5

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Here, Ek Wil Sien!

BESKRYWING: Ons kyk so maklik vas teen die uiterlike dinge in ons lewe. Ons verloor hoop, perspektief en geloof omdat ons bang en moedeloos raak. Kom ervaar hierdie week saam met my hoe hoog en wyd en diep God se genade...

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid