Leesplan inligting

Wees Veilig by GodVoorbeeld

Wees Veilig by God

DAG 4 VAN 7

Jy is wat jy is

Vers 10 in Die Boodskap lees só: “Maar God was wonderlik goed vir my, wat ek natuurlik geensins verdien het nie..”

Oordenking

Arthur Miller se beroemde toneelstuk Death of a salesman gaan oor Willy Loman. Nadat hy sy eie lewe geneem het, sê sy een seun by sy begrafnis: “Pa het nooit geweet wie hy was nie.” Tragiese woorde, maar baie mense gaan met daardie woorde hulle graf in. So baie mense weet nie meer lekker wie hulle is nie.

Jy, kind van God, is egter wie en wat jy is deur die genade van die Here. Daarom durf jy nie minderwaardig oor jouself te dink nie. Jy is hier om die wêreld met die nuwe moontlikheid van lewe te ervaar en te beleef. Om jouself deur God se oë te sien, is die begin van ’n gesonde selfbeeld.

  • Omarm jou gawes, die "wonder” wat jy is. Sê vir jouself: “Goeie genade! Ek is spesiaal, want God dink so.” Dis die eerste fase van selfontdekking. Wanneer jy eers geleer het hoe lief God jou het, sal jy leer om jouself lief te hê.
  • Gebruik jou gawes, jou “wonder”: Wanneer jy eers eenmaal besef het hoe spesiaal jy deur God se genade is, kan jy dit begin uitleef. God het jou spesiaal gemaak sodat jy iets met jou lewe kan doen. Deur ander mense te help, help jy nie net vir hulle om te groei nie; jy self sal ook groei.

Jou selfbeeld word nie bepaal deur wat mense van jou dink nie, maar wat God van jou dink. As jy jou lewe deur God se oë sien, ontdek jy dat jy uniek is. Die kruis is dié simbool wat vir jou sê: God dink ek is so spesiaal dat Jesus vir my aan die kruis gesterf het!

Dis presies wat Paulus lank gelede in 1 Korintiërs 15:10 gesê het: “Deur die genade van God is ek wat ek is.” Suksesvolle mense bely gewoonlik: “Ek is 'n selfgemaakte mens.” In pas met Paulus kan ons bely: “Ek is 'n God geskape vrou/man.”

Besef jy dit? Goeie genade, jy is spesiaal!

Word stil

Skepper God
Ek weet dat U deur u Gees vir my spesifieke gawes gegee het;
dat ek kosbaar is;
dat ek myself mag wees.
Ek is ook geliefd en ek leef in u genade.
Help my om my vertroue nie in myself te soek nie,
maar in U.
Dankie dat u genade geen einde ken nie.

Amen

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Wees Veilig by God

Hierdie leesplan wil jou vertel oor jou bestaan, wat jy doen en aan wie jy behoort sodat jy elke dag kan hoor hoe jou hemelse pa in jou oor fluister: “Goeie genade, jy is spesiaal!” Omdat God jou oorlaai met sy genade. H...

More

Ons wil graag vir Bybel-Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.biblemedia.org.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid