Leesplan inligting

Wees Veilig by GodVoorbeeld

Wees Veilig by God

DAG 3 VAN 7

Jy is ’n lid van die liggaam van Christus

Vers 27 in Die Boodskap lees só: “Julle as Christene is saam die liggaam van Christus. Elkeen van julle is 'n lid van hierdie liggaam.”

Oordenking

Dit is een van die mooiste prentjies wat ooit van die kerk geteken is. “Jy is ’n lid van die liggaam van Christus.” Dit impliseer dat, al is Christus nie meer in sy menslike liggaam in die wêreld nie, Hy mense gebruik om take namens Hom te verrig. As Jesus ’n kind wil leer, vind Hy ’n opvoeder. As Hy iemand wil genees, vind Hy ’n dokter. As Hy wil hê iemand moet sy verhaal hoor, vind Hy ’n storieverteller. Dis nie die kerkgebou wat kerk is nie, maar ek en jy.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog, in ’n kerkie iewers in Noorweë, is ’n Christusbeeld in ’n bomaanval verwoes. Ná die oorlog is die standbeeld herstel, maar die dorpenaars kon nooit die voete en hande van die standbeeld vind nie. Onderaan die standbeeld staan nou hierdie woorde gegraveer: Jy wonder seker waar sy voete en hande is. Hou op wonder. Jý is sy voete en hande in dié wêreld.

’n Verdere implikasie van die waarheid dat jy ’n lid van die liggaam van Christus is, is dat ons aan mekaar verbind is. Wanneer een deel van die liggaam ly, ly die hele liggaam saam. Wanneer een deel van die liggaam bly is, is die hele liggaam bly. As die liggaam van Jesus moet ons uitreik na almal, nes Jesus gedoen het, selfs na dié wat nie soos ons glo nie. Dís hoe genade werk.

In die Eerste Wêreldoorlog het ’n kapelaan op ’n sterwende soldaat afgekom. “Mag ek vir jou bid?” het die kapelaan vir hom gevra. Toe hy die kruis om die kapelaan se nek sien hang, het die soldaat gesê: “Maar, Vader, ek is nie ’n lidmaat van jou kerk nie.” Die kapelaan het hom geantwoord: “Maar jy behoort wel aan my God.” Hy het toe vir die soldaat gebid.

Teresa van Avila het hierdie wonderlike, diep woorde geskryf: “Christus het geen liggaam op aarde behalwe joune nie, geen hande behalwe joune nie.”

Jy is deel aan die liggaam van Christus, en jy is ’n lid van die liggaam van Christus.

Word stil

Christus
U liggaam is aan die kruis gebreek
sodat ek die lewe kan hê.
Dankie vir my deel-wees van u liggaam,
vir die voorreg om lid van u liggaam te wees,
maar ook om u hande en voete te kan wees.
Wys my waar ek u liggaam kan uitleef
sodat ander dit sal sien.

Amen

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Wees Veilig by God

Hierdie leesplan wil jou vertel oor jou bestaan, wat jy doen en aan wie jy behoort sodat jy elke dag kan hoor hoe jou hemelse pa in jou oor fluister: “Goeie genade, jy is spesiaal!” Omdat God jou oorlaai met sy genade. H...

More

Ons wil graag vir Bybel-Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.biblemedia.org.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid