Leesplan inligting

7 Dinge Wat Jou Vreugde SteelVoorbeeld

7 Dinge Wat Jou Vreugde Steel

DAG 6 VAN 8

Vreugde-steler nommer 5: Jou verlede


Jou verlede kan beslis ook iets wees wat jou van jou vreugde beroof. Wanneer jy toelaat dat die aanklaer (Open.12:10) vir jou sê: Hoe kan die Here iemand met jou verlede gebruik? Hoe kan die Here iemand met jou verlede liefhê? 


Ons “aanklaer” is so kreatief en slim op ‘n negatiewe manier. Wanneer hy ons wil verlei om die verkeerde te doen sal hy byvoorbeeld sê: “Dis nie so erg nie” of “Net een keer sal nie ‘n verskil maak nie” of “Niemand sal weet nie.” En dan wanneer jy in die strik getrap het sal hy weer sê: “Die Here sal jou nie kan vergewe nie.” Of “Jy het die Here nou te veel teleurgestel.” 


Om van jou verlede bewus te wees is een ding, maar om daardeur gebind te wees, is iets anders. 


Moenie vashou aan die foute van die verlede nie. Laat gaan en aanvaar God se vergifnis.


Wat is die teenmiddel?


Onthou: Niks kan jou vreugde steel tensy jy dit toelaat nie. Ons kan toelaat dat ons verlede ons aanhou vergiftig en ons gevange hou en by ons spook en ons beroof van die lewe van oorvloed wat die Here ons belowe het. Of ons kan by ‘n punt begin en ons verlede verwerk. As dit nodig is gaan praat met iemand – ‘n vriend(in), ‘n dominee, ‘n sielkundige. Kry iemand om jou te help om die goed uit te pak – al die seer, al die kwaad, al die vernedering. Laat daardie persoon toe om jou te help, om dit in ‘n veilige ruimte te verwerk. Doen dit: verwerk dit of gaan skryf dit neer, skeur dit na die tyd op, as dit nodig is, gaan bely dit voor die Here, toon berou, vra die Here om sy vergifnis en hoor dan wat die Here vir jou in sy Woord in  Psalm 103:12 sê: “So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.”


Ons dien ‘n wonderlike en genadige God wat wil hê dat jy sy genade en vryspraak sal ervaar, want dis wat Hy aan die kruis vir jou en my kom verdien het.


Gebed: 


Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak” Psalm 139:23. Kyk Here wat in my verlede is wat my terughou. Help my om dit te verwerk, berou daaroor te hê en u vergifnis te ontvang. Amen.

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

7 Dinge Wat Jou Vreugde Steel

Ons kyk oor die volgende ag dae na sewe dinge wat jou vreugde steel. God wil graag vir ons die lewe gee en dit in oorvloed. Ongelukkig laat ons toe dat sekere dinge in ons lewe ons van daardie vreugde beroof. Kom ons raa...

More

Ons wil graag NHKA bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://nhkwitfontein.co.za

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid