ROMEINE 14

14
Moenie jou broer veroordeel nie
(Vgl. 1 Kor. 8:11-13; 10:23-33)
1Aanvaar die een wat in die geloof swak is, sonder om met hom te stry as sy opvatting van joune verskil. 2Een glo 'n mens mag alles eet; 'n ander is swak in die geloof, en hy eet net groente. 3Die een wat alles eet, moet die ander wat net groente eet, nie verag nie; en die een wat net groente eet, moet die ander wat alles eet, nie veroordeel nie, want God het hom aangeneem.
4Wie is jy om oor iemand anders se bediende te oordeel? Sy eie werkgewer sal oordeel of hy goed doen of nie. Maar hy sal goed doen; daarvoor sal die Here sorg.
5Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir 'n ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting. 6Die een wat 'n bepaalde dag op 'n besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here. Die een wat alles eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God. En die een wat nie alles eet nie, doen dit tot eer van die Here, en ook hy dank God.
7Niemand van ons leef tog vir homself nie,
en niemand sterf vir homself nie.
8As ons lewe, leef ons tot eer van die Here;
en as ons sterwe, sterf ons tot eer
van die Here.
Of ons dan lewe en of ons sterwe,
ons behoort aan die Here.
9Hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewend geword: om Here te wees van die dooies en die lewendes.
10Jy, waarom veroordeel jy dan jou broer? En jy, waarom verag jy jou broer? Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn, 11want daar staan geskrywe:
“So seker as Ek lewe, sê die Here,
voor My sal elke knie buig,
en elke tong sal bely dat Ek God is.”
12Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee.
Moenie jou broer laat struikel nie
13Laat ons mekaar dan nie meer veroordeel nie. Neem julle liewer voor om niks te doen wat jou broer kan aanstoot gee of tot 'n val kan bring nie. 14Omdat ek die Here Jesus ken, weet ek en is ek daarvan oortuig dat niks vanself onrein is nie. Maar as iemand iets as onrein beskou – vir hom is dit dan onrein. 15As jy met wat jy eet, jou broer aanstoot gee, leef jy nie meer volgens die liefde nie. Moenie deur wat jy eet, iemand vir wie Christus gesterf het, laat verlore gaan nie. 16Moenie dat die goeie wat julle het, 'n slegte naam kry nie. 17Die koninkryk van God is nie 'n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee. 18Wie op hierdie manier vir Christus dien, geniet die guns van God en die agting van die mense.
19Laat ons ons dan beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder. 20Moenie oor kos afbreuk doen aan die werk van God nie. Alle kos is rein, maar dit is verkeerd om deur wat jy eet, aanstoot te gee. 21Dit is goed as 'n mens nie vleis eet of wyn drink of enigiets doen wat jou broer laat struikel nie. 22Laat jou oortuiging hieroor 'n saak tussen jou en God wees. Gelukkig is die man wat hom nie hoef te verwyt oor wat hy hom veroorloof nie. 23As iemand egter twyfel en tog eet, is hy klaar veroordeel omdat hy dit nie uit geloofsoortuiging doen nie. En enigiets wat 'n mens nie uit geloofsoortuiging doen nie, is sonde.

Tans Gekies:

ROMEINE 14: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid