Ken die Liefde - 'n Studie van 1, 2 en 3 Johannes

Oordenking

1 Johannes 3:11-17  

SOAP - 1 Johannes 3:16–17

Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees? 

Oordenking

Dit is maklik om die woorde “Ek het jou lief” te sê, maar om daardie woorde in dade om te sit, is baie moeiliker omdat dit meer van ons verg. Dit vra van ons om ons lewens vir mekaar af te lê. Ons sal waarskynlik nie ‘n koeël hoef te vat of voor ‘n sneltrein in te spring om iemand te red nie. Ons sal egter dinge moet doen soos om selfsug opsy te skuif en ander se belange en behoeftes voor ons eie te stel. Ons word geroep om hierdie liefde teenoor ons eie gesinne, gemeenskappe en selfs die kerk regoor die wêreld te betoon.

Hierdie roeping het ‘n duur prys. Dit vra van ons om te vergewe, waarheid te spreek, mekaar se laste dra, vir mekaar te bid en ons eie belange opsy te skuif. Dit beteken dat ons al daardie “mekaar”-verse moet uitleef. Dit is ‘n groot roeping; ons kan dit nie uit eie krag doen nie. Ons het God se krag in ons nodig om ander met meer as net woorde lief te hê. 

Gebed

Here, die roeping om ander liewer as myself te hê is 'n moeilike een. Ek is van nature selfsugtig en hoogmoedig en ek het u hulp nodig om ware liefde te betoon aan diegene wat U in my lewe geplaas het. Help my om my gesin deur my optrede lief te hê. Help my om my vriende deur my stemtoon en houding lief te hê. Help my om my kollegas lief te hê deur graag dinge wat moeilik of oninteressant lyk, vir hulle te doen. Dankie dat ek deur u krag ‘n getuie vir U kan wees deur die manier waarop ek ander behandel. Amen.