Leesplan inligting

Goeie Nuus: Bemoediging vir 'n Wêreld in KrisisVoorbeeld

Good News: Encouragement for a World in Crisis

DAG 1 VAN 7


God Het Goeie Planne


Ons lewe in 'n ongekende tyd waar ons 'n lewensbedreigende en ekonomiese stryd in die gesig staar, as gevolg van die COVID-19 pandemie. In die verlede het ons al gesien hoe katastrofiese siektes, rampe en oorloë 'n impak op verskeie lande het, maar hierdie is anders. In hierdie tyd het die hele wêreld iets in gemeen: ons almal probeer om 'n dodelike virus te oorleef.


Hoe maak ons, as volgelinge van Jesus, hiervan sin? Wat moet ons doen met ons vrae vir God en ons vrae oor God? Hoe kry ons goeie nuus in 'n voortdurende stroom van slegte nuus? Hoe verstaan ons hoe dit inpas in die bekende Skrifgedeelte van Jeremia 29:11? 


"Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!"


Hierdie vers gee ons hoop en is ons geestelike versekering in moeilike tye. Dit word gedruk op t-hemde, ingeëts op koffiebekers en op groetekaartjies gestempel. Terwyl God 'n Gewer van hoop is, moet ons die konteks van hierdie geliefde vers verstaan. 


Jeremia het geprofeteer vir die Israeliete in die suidelike koninkryk van Juda voordat hulle in 586 v.C. deur Koning Nebukadnesar van Babel gevange geneem is. In Jeremia 27 het hy geprofeteer dat hulle hierdie koning sou dien, sy seun, asook sy kleinseun en dat alles onder hulle beheer sou wees. (Jeremia 27:6-7) 


In die volgende hoofstuk het 'n valse profeet met die naam Gananja, vir die mense vertel dat God hulle sal bevry en alles binne twee jaar sal herstel. Jeremia het vir Gananja uitgedaag oor sy leuens. Hy het ook gesê dat Gananja sou sterf. Binne twee maande was hy dood.


In hoofstuk 29 moedig Jeremia die mense aan om met hulle lewens voort te gaan terwyl hulle in ballingskap is — te werk, te trou, te plant, te eet en te vermenigvuldig! Hy vertel vir hulle dat hulle vir 70 jaar in Babel sal wees en dan eers weer huis toe gebring sou word. 


God se planne van hoop en 'n toekoms vir sy uitverkore mense het waarskynlik nie gepas by wat hulle idee was nie. Hulle wou huis toe gaan, maar God het gesê dit sal 70 jaar neem. Hulle wou hulle eie koning gehad het, maar God het gesê dat hulle die koning van Babel sal dien. Hulle wou floreer in hulle tuisland, maar God het gesê dat hulle dit moet doen onder 'n regering wat hulle gevange gehou het. Die moeilikste deel was moontlik dat die ouer geslag nooit weer sou kon teruggaan huis toe nie. Hulle sou in 'n vreemde land sterf, terwyl hulle 'n vreemde koning dien. 


Ons kan nie aandring op ons eie idee van 'n blink en hoopvolle toekoms nie. Ons is geneig om kortsigtig en aardsgesind te wees, maar God se weë is soveel hoër as wat ons gedagtes kan begryp. Sy plan is beter! Dit sluit 'n ewige lewe saam met Hom in die hemel in en nie net 'n kort gedeelte van ons lewens op aarde nie. 


As daar twyfel, vrees en angs te midde van ons hoop is, kan ons dit vandag verander. Ons moet ons "ek hoop so" houding uitskakel en dit vervang met 'n "ek weet so" ingesteldheid. Ons hoop moet nooit verbonde wees aan die geriewe en plesiere wat die wêreld vir ons bied of die gemak van 'n situasie nie. Ons moet eerder ons gedagtes rig op die beloftes en waarheid in die Woord van God en ons blik vestig op die dag wanneer ons blink, heerlike en ewige toekoms 'n realiteit gaan word. In plaas daarvan om ons dae weg te wens oor die penarie waarin ons is, kom ons vertrou dat God hoop in ons sal plaas, ongeag wat ons in die gesig staar. 


Wil jy vandag se beeld deel? Druk hier om dit af te laai.


Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Good News: Encouragement for a World in Crisis

Ons lewe in 'n ongekende tyd in die huidige COVID-19 pandemie. Waar kry ons hoop en goeie nuus te midde van die voortdurende stroom van slegte nuus? Vir volgelinge van Jesus is daar altyd goeie nuus. In hierdie 7-dag lee...

More

Hierdie oorspronklike leesplan is deur YouVersion geskep en verskaf.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid