Leesplan inligting

Die WrokVoorbeeld

The Grudge

DAG 1 VAN 7

Vergifnis. Dit is iets wat ons almal weet ons aan ander moet bied, maar dit is baie makliker gesê as gedaan. Deur die loop van die volgende paar dae, sal ons bespreek hoe om ander, onsself, en selfs vir God, te vergewe. Vind deur middel van mense se werklike ervarings uit hoe jy vryheid deur vergifnis kan verkry. 



Wanneer ek my gewoonlik voorgestel het hoe ek ander vergewe, het ek altyd 'n prentjie gehad van hoe dit sou lyk. Eerstens, sou die persoon self besef wat hulle gedoen het en hoe diep dit my seergemaak het. Tweedens, sou hulle my met 'n ernstige verskoning benader omdat hulle alles daarin wou sit en hard daaraan werk om alles in ons verhouding weer reg te stel. Dit klink darem eenvoudig genoeg, nè? 



Ek lag vir myself terwyl ek dit skryf, wetende dat hierdie perfekte prentjie in my kop verkeerd is. Jy sien, om te vergewe gaan nie eintlik oor die ander persoon nie. Vergifnis is 'n besluit wat ek self moet neem — 'n besluit om my wrokke te laat vaar en vryheid en liefde bo woede te kies. Om vrede bo seerkry te kies. Om die verhouding te kies bo telling hou oor wie reg is.  



Snaaks genoeg, sodra ek die besluit geneem het om te vergewe, het die verhouding gewoonlik begin verbeter. 



Dit is nie 'n nuwe begrip nie. Sedert die begin van die mensdom maak mense mekaar seer. Nietemin, ons almal het die keuse om die wrok wat ons dra, te koester — daardie self-regverdigende woede wat soos 'n albatros om ons nekke hang, met 'n lys van besonderhede oor die persoon wat ons te na gekom het — of om dit te laat vaar, jou trots opsy te skuif en te besluit dat die verhouding die moeite werd is om voor te veg, deur te vergewe.  



Dit werk so: om jou wrok te koester, is amper soos om aan 'n kaktus vas te hou. Wag, ek verduidelik gou. Dit hou ander van jou af weg en dit verskaf aan jou pyn. Dit maak nie saak of jy die kaktus by iemand anders gekry het nie. Dis jou verantwoordelikheid om dit neer te sit.  



In Efesiërs 4 sê Paulus aan die kerk om nie verbitterd, opvlieënd of woedend te word nie; nie te vloek, skel of te doen wat sleg is nie. Hulle moet eerder goedgesind en hartlik wees teenoor mekaar. Hoekom? Omdat God ons in genade vergewe het. 



Ons is so onwaardig van vergifnis, tog gee Jesus dit vrylik aan ons. Ons word geroep om soos Hy te wees en die liefde van Christus aan ander te bewys. Watter beter manier is daar as om 'n voorbeeld van sy liefde te wees en ander te vergewe?



Magda, wat die kaktus los en eerder vergewe. 



Vra: Aan watter wrokke hou jy vas? Hoe kan jy van jou wrok afstand doen en eerder kies om te vergewe? 



Bid: Vader, dankie dat U ons vrylik vergewe al verdien ons dit nie. Help ons om dieselfde liefde en genade aan ander te bewys. Maak ons harte sag teenoor hulle wat ons te na gekom het, en help ons om meer soos U te wees deur ander lief te hê soos U hulle liefhet. In die Naam van Jesus, amen. 


Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

The Grudge

Dis soos 'n albatros om die nek. Dit hou mense weg. Dis swaar en pynlik — dit is die wrok. Daar is baie onder ons wat dit nie besef nie, maar ons dra wrokke wat aan die lig moet kom. Leer hoe jy vryheid deur vergifnis ka...

More

Ons wil graag Life.Church bedank vir die voorsiening van hierdie leesplan. Vir verdere inligting, besoek gerus: https://www.liefe.church/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid