PSALMS 103:1-22

PSALMS 103:1-22 AFR83

Van Dawid. Ek wil die Here loof, met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof. Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie. Dit is Hy wat al my sonde vergewe, wat al my siekte genees, wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon, wat my die goeie in oorvloed laat geniet, my die jeugdige krag van die arend skenk. Die Here laat geregtigheid en reg geskied aan almal wat verdruk word. Aan Moses het Hy sy wil bekend gemaak, aan Israel wat Hy van plan was om te doen. Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie. Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie, want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af. Soos 'n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is. Die mens, sy lewensduur is soos dié van gras, soos dié van 'n veldblom wat oopgaan: as die woestynwind daaroor waai, is dit weg en sy plek vir altyd leeg. Maar onverganklik is die liefde van die Here vir dié wat Hom dien, sy trou vir opeenvolgende geslagte, vir dié wat getrou bly aan sy verbond en sy voorskrifte nakom. Die Here het sy troon in die hemel gevestig, sy heerskappy strek oor alles en almal. Loof die Here, magtige engele wat sy opdragte uitvoer, sy bevele gehoorsaam. Loof die Here, alle hemelwesens wat Hom dien en sy wil doen! Almal wat deur Hom geskep is, loof die Here op al die plekke waar Hy heers!

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid