Leesplan inligting

Die WrokVoorbeeld

The Grudge

DAG 7 VAN 7

Om Jouself te Vergewe 



Wat doen jy wanneer die wrok wat jy koester, nie teen iemand anders nie, maar teen jouself gemik is? Wanneer jou innerlike kritikus oor jou denke beheer neem en dinge skree soos: Hoe kon jy dit doen? Skaam jou. Dis onvergeeflik. 



Wanneer jy voel dat jy jouself nie kan vergewe nie, is jy in 'n geveg gewikkel wat jy nie kan bekostig om te verloor nie. Die naakte waarheid is: dit is nie moontlik om ander te vergewe as jy nie eers jouself vergewe het nie. Daar is dus geen tyd om van jou innerlike stryd af weg te hardloop nie. Dis tyd om God se wapenrusting aan te trek en beheer te neem oor die geveg in ons gedagtes. 



Ek weet dis nogal oorweldigend — selfs onoorkombaar. Ons kan egter hierdie stryd stry as ons weet dat ons nie alleen veg nie. 



Wanneer die las van wat ons gedoen het, te veel word, het ons hierdie gevegskreet: 



"Selfs as daar dinge is waaroor ons skuldig of onseker voel, weet ons dat God groter is as al ons skuldgevoelens of onsekerhede. Hy weet immers meer oor ons as ons self. My liewe vriende, as ons van hierdie skuldgevoelens en slegte gewete ontslae is, is daar niks wat ons meer keer om by God op ons gemak te wees nie" (1 Johannes 3:20-2 DB). 



Dis nou kragtige ammunisie nè? 'n Ander vertaling van daardie vers sê dat God groter as ons gevoelens is. Ons denke mag ons dus laat voel ons kan nie vergewe word nie, maar ons Vader (wat elke deel van ons geskape het) sê ons het vryheid. 



Die vyand probeer ons oortuig dat ons veroordeel is en hy probeer ons so op ons foute laat fokus, dat ons wegkruip vir God. Dis regtig 'n aaklige misleiding, want die vyand weet hy kan ons oorwin deur ons van ons Redder te skei. 



Ons kruip dus weg. Ons sit in ons eie donkerte, seker dat ons die gevolge van ons dade moet dra. Wanneer ons egter uit die veroordeling tree na God se verlossing, het ons die vrymoedigheid om met die God te praat, wat ons sonde vergewe, alles weer regmaak en ons liefhet ongeag ons foute. 



Ons hoef nie langer saam met die vyand se leuens te lewe nie. Deur Christus het ons die krag om ons gedagtes gevange te neem en ware vergifnis te ontvang. 



Gebruik hierdie vaardighede wanneer jou wrok te swaar word om te dra: 



1. Erken jou gevoelens. Dit is goed om skuldig te voel wanneer dit jou na God toe lei. Ons maak almal foute. Dis 'n natuurlike (en gesonde) reaksie om berou te hê wanneer dit gebeur. Wanneer jy dus verkeerde dinge gedoen het, erken jou foute en gee aandag aan die gevoelens wat daarmee gepaard gaan. Neem verantwoordelikheid. Verwerk dit en bid oor daardie gevoelens, maar moenie toelaat dat dit 'n sweer word nie.



2. Vra God se vergifnis, en bely dit teenoor ander, om genesing te ontvang. Vertel God van jou fout, vra sy vergifnis en bid dat Hy jou sal help om die fout in die toekoms te vermy. Bely dit dan teenoor ander. Sonde groei ten beste in die donker, bring dit dus aan die lig teenoor Christus en ander. 



3. Tree op. Soms is daar eintlik iets wat jy kan doen om jou fout reg te stel. As dit die geval is, doen dit! Indien jy iemand wat jy liefhet, seergemaak het, gesels ernstig daaroor en herstel die verhouding. Aanvaar die onvermydelike gevolge van jou dade, terwyl jy terselfdertyd God se bomenslike medelye ontvang. 



4. Soek hulp.Indien jy nog sukkel om God se genade te ontvang of om jouself ten volle te vergewe, mag dit tyd wees om professionele hulp te soek. Soms is daar onderliggende sake van seer uit die verlede, wat na die oppervlak moet kom. 'n Berader of terapeut kan jou help om vas te stel wat dit is en jou die addisionele vaardighede gee om volle vryheid deur vergifnis te ervaar. 



As jy onvergewensgesindheid teenoor jouself koester, is jy nie alleen nie. Ons het almal foute gemaak, tog het God gekies om ons skuld te betaal, want Hy het ons lief en wil 'n verhouding met ons hê. Moet dus nie toelaat dat die vyand jou laat wegkruip nie. Gaan na God en ontvang sy onbeperkte liefde wat alles oorwin. 



Alex, wat uit die duisternis uit wegbreek. 



Bid: Vader, help my om u vergifnis te ontvang en myself te vergewe. Wys my watter stappe ek moet doen om u genade en guns ten volle my eie te maak. Omring my met die regte mense wat my na U sal terug lei, en wys my watter stappe om dan te doen sodat ek u vergifnis kan aanneem, nie net vir myself nie, maar ook vir hulle om my. In die Naam van Jesus, amen.  


Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

The Grudge

Dis soos 'n albatros om die nek. Dit hou mense weg. Dis swaar en pynlik — dit is die wrok. Daar is baie onder ons wat dit nie besef nie, maar ons dra wrokke wat aan die lig moet kom. Leer hoe jy vryheid deur vergifnis ka...

More

Ons wil graag Life.Church bedank vir die voorsiening van hierdie leesplan. Vir verdere inligting, besoek gerus: https://www.liefe.church/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid