Leesplan inligting

Oor Niks BekommerdVoorbeeld

Anxious For Nothing

DAG 6 VAN 7

Wat as jy God kan prys selfs te midde van pyn? Brian het angs ervaar wat selfs tot fisieke simptome gelei het. Deur sy ervaring, het hy egter ontdek dat hy nog baie het waarvoor hy God kan dank. Hier volg sy verhaal: 



Ek het 'n paar jaar gelede terwyl ek in die buiteland gewoon het vir die eerste keer, gedurende 'n uitdagende stadium van my lewe, met akute angs en paniek te doen gekry. Terwyl ek 'n nuwe taal moes aanleer, 'n nuwe sake-onderneming begin het, die lig van Christus moes wees met feitlik geen kerk in die nabyheid nie en ouer van 'n eenjarige tweeling was, was dit asof ek stelselmatig in 'n donker vallei neergedaal het. 



Met die verloop van 'n aantal maande, het ek borskaspyne, hoofpyne en ander siektes gekry wat, soos niks wat ek voorheen ervaar het nie, as 'n katalisator vir vrees en bekommernisse gedien het. Tot op hierdie stadium van my lewe, het ek nooit veel gesukkel met bekommernis nie, en om eerlik te wees, het ek my eintlik daarop beroem dat ek 'n dapper kansvatter is. Ek het egter gou begin dink aan die ergste situasies — oortuig dat iets ernstig met my verkeerd was of dat iets vreesliks met my gesin sou gebeur. 



Mense het gevra of my angs weens fisiologiese of geestelike omstandighede was. Nadat ek goed hieroor nagedink het, was ek redelik oortuig dat die antwoord "ja" was. Ek glo dikwels kan verskeie dinge 'n rol speel. Spanning het 'n manier om op te bou tot by 'n punt waar selfs hulle wat die meeste kan verduur, swig voor die intensiteit waarmee dit opbou. 



Verder, net soos ander fisieke beperkinge of siektes, ervaar ons soms tye wanneer daar 'n chemiese wanbalans in ons liggame ontstaan. Boonop lyk dit of ons geestelike vyand 'n opportunis is wanneer dit by sy aanvalle kom, want hy slaan juis op ons swakhede toe. 



In Paulus se bekende uitdaging in Filippense 4:6-7 om oor niks bekommerd te wees nie, doen hy 'n beroep dat ons nie net sal bid nie, maar ook dankie sê. Die agtergrond waarteen Paulus dit sê, volg nie op die hakke van oorwinning of na 'n wonderbare deurbraak nie. Om die waarheid te sê, Paulus was self nogal in 'n erge penarie. Hy was besig om vanuit die tronk, waar hy 'n onseker toekoms in die gesig gestaar het, aan die kerk in Filippi te skryf. Tog weerspieël sy brief sy diepe blydskap en gesindheid van vreugde. 



Te midde van ons pyn, kan ons God nogtans loof en prys. 



Ek glo nie dat Paulus van ons vra om valse dankbaarheid op te dis nie. Ek dink Paulus daag ons juis uit om op die gepaste tye dankbaar te wees, selfs te midde van die stryd waardeur ons tans mag gaan. 



Ek het agtergekom dat ek altyd iets het om te vier. Selfs gedurende sommige van die swaarste beproewings wat ek al in die gesig moes staar, was daar altyd dinge waarvoor ek dankbaar was. Deur daaroor na te dink en aan Hom uitdrukking van my dankbaarheid te gee, help dit om my siening te verander en my denke te vernuwe. 



Te veel negatiewe of spanningsvolle gedagtes kan 'n algemene sin van dreigende onheil skep. Selfs wanneer ek my dankbaarheid aan God as 'n gedwonge handeling van dissipline verklaar, ervaar ek dikwels dat die las begin lig. 



Dit beteken nie dat daar 'n soort foefie-formule tot 'n spanningsvrye lewe is nie. Die beginsel om God selfs in pyn te loof, is egter 'n weg tot sy lewegewende teenwoordigheid wat aan ons vrede bied. 



-Brian


Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Anxious For Nothing

Wat as daar 'n beter manier is om te veg teen die eindelose bekommernisse wat jou snags wakker hou? Ware rus is beskikbaar — dalk nader as wat jy dink. Vervang paniek met vrede deur hierdie 7-dag leesplan van Life.Church...

More

Ons wil graag Life.Church bedank vir die voorsiening van hierdie leesplan. Vir verdere inligting, besoek gerus: https://www.life.church/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid