Leesplan inligting

Oor Niks BekommerdVoorbeeld

Anxious For Nothing

DAG 5 VAN 7

Voel jy ooit skuldig om 'n Christen te wees wat "oor niks bekommerd" is nie? Maak jou angs jou nog meer angstig omdat jy voel dat jy nie so behoort te voel nie? Lori was in dieselfde bootjie, totdat sy die een ding ontdek het wat alles verander het. 



My huwelik was in 'n warboel. Ek het alleen die verantwoordelikheid gedra om drie kinders groot te maak, waarvan twee tieners was. (Vader, help my!) Werk, kosmaak, skoonmaak, saamry, heelmaak, finansiering, ondersteuning, liefhê en voorsiening — alles het op my skouers gerus. Angs het my oorweldig en ek het nie geweet wat om daaraan te doen nie. 



Ek het alles probeer waaraan ek kon dink: berading, meditasie, medikasie, musiek, oefeninge, voordra van Skrifgedeeltes, noem maar op en ek het dit probeer! Niks kon dit wegneem nie. Moenie my misverstaan nie, hierdie dinge het my beslis gehelp. Ek het geleer om die nodige hulpbronne te gebruik om my weer op Christus in te stel. Ek het egter nog steeds gesukkel. As ek terugkyk, besef ek die een ding wat ek nie probeer het nie, was om "op te hou probeer."



As jy in die Skrif soek, sal jy vreeslik baie verse kry wat oor bekommernis handel. Ek weet, want ek het die towerformule gesoek wat my moes help om dit eens en vir altyd te oorwin. In my soeke het ek op iets onverwags afgekom. Jy moet regtig aandag gee om dit raak te sien, maar in daardie verse is onuitgesproke instruksies van die Vader om niks te doen nie. Ja, ek is ernstig — niks nie.



In Matteus 11:28 (NLV) sê Jesus: "Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik." Hy doen die werk, nie ons nie. Ons moet net na Hom toe kom.



In Johannes 14:27 (NLV) sê Hy: "Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle …" Let jy die tema hier op? Hy gee aan ons vrede. Hy gee aan ons rus. Ons doen niks nie. 



Die bekende gedeelte in Matteus 6:25-34 (NLV), leer ook die volgende: om nie bekommerd te wees nie, want as God "die veldplante … so mooi aantrek, hoeveel te meer sal Hy nie vir julle sorg nie?" Ons opdrag is: "... maak die koningsheerskappy van God … julle prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge byvoeg." Dis reg — het jy dit gesnap? Hy sal dit vir ons gee!



God is 'n gewer. Hy het die antwoorde, en Hy is altyd daar vir ons. Sommige dinge kan ons eenvoudig nie vir onsself doen nie, maar dit is presies hoe Hy dit wou hê — vir ons om Hom nodig te hê.



Al daardie dinge waaroor ek bekommerd was, het op die een of ander manier uitgewerk. Dis eers toe ek asemhaal, tot rus kom, waarlik na Jesus gekom het, stil geraak het, alle kleinighede laat gaan het, aan God gesê het dat ek Hom vertrou — en geleer het om dan niks te doen nie — dat ek ten einde laaste vrede gevind het. Uiteindelik het my gebede minder oor my omstandighede gegaan en meer oor my vertroue in Hom. 



As jy dieselfde moet doen, moedig ek jou ten sterkste aan om in Hom tot rus te kom. Jy kan Hom vertrou. Ek bid die volgende wanneer ek weer deur angstigheid oorweldig voel: 



Liewe Here,



Ek kom vra vandag U hulp. U is my alles. Here, ek het rus nodig. Ek gee my bekommernis aan U. Neem dit Here. Ek aanvaar u vrede, liefde en begrip. Help my om my na U te wend en nie na myself nie. Help my om op te hou om dinge te doen en U te begin vertrou. Help my om op u antwoorde te wag, want ek weet hulle is goed. Gee my wysheid, hoop en vrede. Dankie, Here, vir u geduld en genade. Ek het U lief en ek weet U het my soveel meer lief as wat ek my ooit kan indink.



Amen.



-Lori


Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Anxious For Nothing

Wat as daar 'n beter manier is om te veg teen die eindelose bekommernisse wat jou snags wakker hou? Ware rus is beskikbaar — dalk nader as wat jy dink. Vervang paniek met vrede deur hierdie 7-dag leesplan van Life.Church...

More

Ons wil graag Life.Church bedank vir die voorsiening van hierdie leesplan. Vir verdere inligting, besoek gerus: https://www.life.church/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid