Leesplan inligting

Die Sewe Huisraadstukke Van Die TabernakelVoorbeeld

Die Sewe Huisraadstukke Van Die Tabernakel

DAG 4 VAN 7

DIE GOUE KANDELAAR


Die vierde stuk meublement rakende die dienswerk van die tabernakel is die goue kandelaar in die heiligdom. 


Behalwe dat die kandelaar homself verlig het, het dit ook lig gewerp op die ander twee toebehore in die heiligdom – die tafel met die twaalf toonbrode en die goue reukaltaar. Ons vind die beskrywing van die goue kandelaar in Exodus 25:31-40.


Die goue kandelaar is staangemaak in die heiligdom, aan die suidekant, reg teenoor die tafel met die toonbrode (Ex 40:24). Die kandelaar moes uit een stuk goud geslaan word (Ex 25:31, 36), ’n stam en ’n voetstuk, en uit die stam ses arms, drie uit elke sykant. Ons merk op dat die ses arms uit die stam spruit, net soos die stam self uit die voetstuk spruit. Alles uit een stuk soliede goud, ’n talent in gewig (60 kg) (Ex 25:31). Van dryfwerk moes dit gemaak word (vers 31, 36). Uit die dryfwerk verstaan ons dat dit hamerslae moes ondergaan om gevorm te word en nie gegiet was nie. Die kandelaar het bestaan uit één stam en ses arms, drie arms weerskante van die stam. Die stam van die kandelaar het vier kelke, blomme en knoppe gehad. Elke arm het drie kelke, blomme en knoppe gehad. Dus was die stam uit die voetstuk hoër as die arms aangesien dit vier kelkies teenoor die arms se drie kelkies gehad het. Aan die bopunt van die stam en elke arm was ’n lamp gevul met suiwer olyfolie en voorsien van ’n pit van vlas.


Die goue kandelaar met sy sewe lampe het lig voorsien in die heiligdom, dit was ook die enigste lig aangesien daar in die heiligdom geen vensters was wat natuurlike lig ingelaat het nie. Dié lampe moes gedurig brand (Ex 27:20). Van die aand tot die môre (Ex 27:21); en elke môre wanneer die priester die lampe regmaak, moet hy dit aansteek, en teen die aand het hy die lampe opgesteek as ’n voortdurende reukwerk voor die aangesig van die Here (Ex 30: 7 – 8).


Die betekenis van die goue kandelaar en sy lampe: Aangesien die tabernakel en sy toebehore op Christus dui, sien ons in die goue kandelaar ’n beeld van Christus en sy kerk. Die kandelaar wat uit een stuk goud geslaan word, spreek van Christus; die profeet Jesaja het vooruit gesien dat ons Christus “gehou (het) vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was. Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel” (Jes 53:4-5).


Christus in sy mensheid is die stam (Yarek),  die gesalfde bó sy metgeselle (Heb 1:9); die wynstok (Joh 15:1); die Kerk is die arms wat van Hom uitspruit, die lote (Joh 15:5). Die eenheid tussen die stam en die arms, tussen die wynstok en die lote is ook dié van Christus en sy Kerk: “Want in Hom  lewe ons, beweeg ons en is ons” (Hand 17:28). Die ses arms stel die Kerk voor van wie Paulus gesê het: “te midde van ’n krom en verdraaide geslag skyn (die gelowiges en die Kerk) soos ligte in die wêreld” (Fil 2:15). Christus het die Kerk nodig om Sy lig of openbaring aan die wêreld te gee.


Die skoonheid van die stam was ook op elke arm, naamlik die kelke, knoppe en blomme. Die vorm van die kelkies was soos amandelblomme. Amandelblomme herinner aan die ouderdom (Pred 12:5-7), God se sorg, en ook die opstanding. Dit is die boom wat die eerste bloei ná die winter. Die knop is ’n openbaring van lewe. Wanneer dit oopgaan, verskyn die blomme en daarna die vrugte – dit is die resultaat van die knoppe. 


Die kandelaar sou niks beteken het sonder die lampe nie. Die kandelaar het die dinge wat vir die natuurlike lig versteek was, geopenbaar. Die lampe is gevoed met suiwer olywe wat geoes en uitgestamp is – nie gemaal nie, maar gestamp – dit maak die olie suiwerder as wanneer dit gemaal is (Ex 27:20). Ons bemerk dat daar in die voorbereiding van die olie ’n parsing vooraf geskied het. Die uitgeparste olyfolie was ’n produk van verbryseling. Olie, weet ons, is ’n simbool van die Heilige Gees (Joh 2:27). Christus self is die Gesalfde Een; die woord “Messias”, wat wanneer dit vertaal word letterlik die Gesalfde Een beteken (Hand 10:38; Heb 1:9). Van Christus sê die profeet: “Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om ’n blye boodskap te bring . . .” (Jes 61:1). Die kandelaar verteenwoordig Jesus Christus en die olie die Heilige Gees. 


In ons lewe, soos in die lewe van Christus, is ons volkome afhanklik van die Heilige Gees vir ons geestelike lewe, funksie en krag. Die Kerk moet die geestelike dinge wat vir die natuurlike mens onmoontlik is om te verstaan, openbaar en aan die lig bring (1 Kor 2:9-16). Terselfdertyd is dit die taak van die Kerk om getuie vir die Here te wees. Toe die apostel Johannes op die eiland van verbanning, Patmos, was het hy die Here Jesus Christus sien wandel tussen die sewe goue kandelare, dit is die sewe gemeentes (Op 1:12-13, 20). Elk van die sewe gemeentes word verteenwoordig deur sy eie kandelaar.


Die kandelaar in die tabernakel se lampe moes elke môre reggemaak word, want wanneer die lampe gebrand het, het roet begin saampak, met die gevolg dat die lampe mettertyd dof begin brand het. Aan elke pit by elke lamp het ’n aanpaksel van roet vasgekleef wat dit vir die pit wat in die olie lê, onmoontlik maak om ’n helder lig te gee. Die priester moes dus elke môre die snuiter neem en die roet van elke pit afknip. Dan neem hy die goue kom met die suiwer olyfolie en vul die lampe met vars olie. Só word die lampe reggemaak. Onder ons, die Kerk, wandel ons Hoëpriester om die lampe van die kandelare (sy gemeentes) reg te maak. Hy begeer nie om die dowwe lamppitte uit te blus nie, maar vry te maak van roet en van vars olie te voorsien sodat sy Kerk (die gelowiges) helder kan brand as die lig van die wêreld. Die apostel Paulus vermaan dan juis die gemeente van Éfese: “Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here – wandel soos kinders van die lig” (Ef 5:8). Dit is omdat God gesê het dat daar uit die duisternis lig moet skyn – dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus (2 Kor 4:6).


Die Kerk (elke wedergebore gelowige) het die verantwoordelikheid om die lig van Christus te laat skyn. Die gelowige is maar net die pit wat in die olie lê. Wanneer ’n lamp dof brand, is dit omdat daar té min olie in is – die pit is nie deurweek met die olie nie, of die roet het so erg aangepak dat die roet van die pit eers met behulp van ’n snuiter verwyder moet word. Indien nodig, sal Christus as getroue Hoëpriester dit doen, sodat die Kerk (gelowiges) soos ligte skyn onder ’n krom en verdraaide geslag (Fil 2:15).

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Die Sewe Huisraadstukke Van Die Tabernakel

Ons vind twee dinge in die voorhof waarop ons aandag gevestig word, naamlik die koperaltaar en die koperwaskom. Altesame was daar sewe items of stukke huisraad rakende die tabernakel. Twee in die voorhof, drie in die Hei...

More

Ons wil graag Raymond D. Lombard Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.raymondlombard.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid