Leesplan inligting

Die Sewe Huisraadstukke Van Die TabernakelVoorbeeld

Die Sewe Huisraadstukke Van Die Tabernakel

DAG 2 VAN 7

DIE KOPERWASKOM


Die tweede stuk huisraad wat ons teëkom, is die koperwaskom. Nadat die priester die offer op die brandofferaltaar gebring het, het hy na die koperwaskom aanbeweeg om hom daar skoon te was voordat hy gereed was om die tabernakel te betree. Dit was ’n streng bevel van die Here wat in Exodus 30:17-21, 38:8 opgeteken is. 


Die koperwaskom met sy voetstuk was van die gepoleerde koperspieëls gemaak, wat die Joodse vroue en die Egiptiese vroue ten tyde van die uittog uit Egipte geneem het (Ex 38:8). Die koperwaskom was met water gevul.


Soos in die geval met die kopervoetstukke van die pilare en die koperaltaar, spreek koper van Goddelike oordeel. Deur in die spieël te kyk kon die priester sy uiterlike voorkoms beoordeel. Die koperwaskom is een van die onmisbare voorwerpe in die toenadering tot gemeenskap met God in die heiligdom. So lees ons dat Aäron en sy seuns hulle hande en voete daaruit kon was vóórdat hulle die tent van samekoms ingaan, sodat hulle nie sterwe nie. Dit was ’n Goddelike verklaring dat onreinheid nie in die heilige teenwoordigheid van God toegelaat sou word nie. Ons sien dus dat die doel van die koperwaskom was dat priesters geskik gemaak sal word tot gemeenskap en diens in die heiligdom.


Tipologies het ons nie hier te doen met die skuld van sonde waarmee by die brandofferaltaar afgehandel is nie, maar wel met die innerlike onreinheid in die lewe van die kind van God.


Die priesters moes na die koperwaskom van blink gepoleerde spieëls gaan om hulself te was – hulle was dus verplig om in die spieëls te kyk om hul voorkoms te beoordeel. Die spieëls in die Skrif simboliseer die geskrewe Woord van God waardeur die gelowige homself moet beoordeel: “Want as iemand ’n hoorder van die woord is en nie ’n dader nie, dié is soos ’n man wat sy natuurlike gesig in ’n spieël sien; want hy sien homself en gaan weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. Maar hy wat diep insien in die volmaakte wet van die vryheid en daarby bly (’n dader daarvan is), hy sal, . . . gelukkig wees in wat hy doen” (Jak 1:23-25). Wat beteken ’n waskom sonder water? As die koperwaskom op die geskrewe Woord wys, dan spreek die water in die waskom ongetwyfeld van die Heilige Gees (Joh 7:38-39). Dit is dan die Heilige Gees wat ons, deur die toedoen van die Woord, in die waarheid (die Woord – Joh 17:17) lei. Ons moet onthou dat ook die water ’n beeld van die Woord is, want ons lees in Efesiërs 5:26 dat Christus die gemeente heilig, “nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord”.


Aäron en sy seuns word ernstig vermaan dat hulle hul hande en voete in die koperwaskom moes was sodat hulle nie sterwe nie. Voordat hulle dus enige dienswerk in die heiligdom kon verrig, moes daar eers reiniging plaasvind. Die hande en voete praat natuurlik van die daaglikse handel en wandel deur hierdie sondige wêreld. So moet ons ook, as God se priesterdom vandag (1 Pet 2:5, 9), ons daagliks deur die aanwending en toepassing van die Woord en die reinigende werk van die Gees reinig (Joh 15:3). Só stel Jesus dit ook vir ons in Johannes 13:10: “Hy wat gewas (gebad of wedergebore [Tit 3:5]) is, het niks anders nodig as om die voete (of die sondes van die daaglikse wandel) te was (of te reinig – 1 Joh 1:9; 2:1) nie, maar is heeltemal rein; en julle is rein . . .”


Die boodskap van die koperwaskom spreek helder en duidelik tot die kind van God in Jakobus 1:21: “Daarom, doen afstand van alle vuiligheid en oorvloed van boosheid, en ontvang met sagmoedigheid die ingeplante woord, wat in staat is om julle siele te red.” Want as ons die heiligdom van God wil ingaan waar Christus nou is, laat die Skrif by ons geen twyfel wat die weg is waar ons toegang moet soek nie: “Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus (brandofferaltaar – die kruis) op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel (waar ons die Allerheiligste betree) heen, dit is sy vlees . . . laat ons toetree met ’n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ’n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water” (Heb 10:19-22).


Ons kan opsommenderwys sê; dit is nie eers die koperwaskom en dán die koperaltaar nie, maar eers die altaar en dán die waskom. Anders gestel:



  • Die altaar verkondig die boodskap van regverdigmaking.

  • Die waskom verkondig die boodskap van heiligmaking.

  • By die altaar hoor ons: Sonder bloedvergieting is daar geen vergifnis nie. By die waskom hoor ons: Sonder heiligmaking sal niemand God sien nie (Heb 12:14).

  • By die altaar hoor ons Jesus sê: Ek het gekom dat julle lewe kan hê. By die waskom hoor ons: Ek het gekom dat julle oorvloed van lewe kan hê.

  • By die altaar hoor ons: As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe. By die waskom hoor ons: Hy is getrou en regverdig om ons van alle ongeregtigheid te reinig.

  • ’n Boetvaardige sondaar staan by die altaar en roep: O God, wees my, sondaar, genadig. By die waskom roep die gelowige: O God, skep vir my ’n rein hart (Ps 51:12).


Ons word nie eers gereinig van ons sondes sodat ons na die kruis mag gaan vir die versoening van ons skuld nie. Ons gaan eers na die kruis om versoening vir ons sondeskuld te kry, en dán vergifnis van ons daaglikse oortredinge en sondes.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Die Sewe Huisraadstukke Van Die Tabernakel

Ons vind twee dinge in die voorhof waarop ons aandag gevestig word, naamlik die koperaltaar en die koperwaskom. Altesame was daar sewe items of stukke huisraad rakende die tabernakel. Twee in die voorhof, drie in die Hei...

More

Ons wil graag Raymond D. Lombard Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.raymondlombard.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid