Leesplan inligting

Die Sewe Huisraadstukke Van Die TabernakelVoorbeeld

Die Sewe Huisraadstukke Van Die Tabernakel

DAG 6 VAN 7

DIE ARK VAN DIE GETUIENIS


Die enigste twee voorwerpe in die Allerheiligste agter die voorhangsel was die ark en sy versoendeksel. Die ark is dan die sesde stuk huisraad in die tabernakel waarna ons vervolgens gaan kyk. Die ark word gewoonlik genoem:



  • Die Ark van die Getuienis (Ex 26:34), omrede die konstante getuienis van die Wet binne-in die ark was.

  • Die Ark van die verbond (verbondsark) (Num 10:33; Heb 9:4), omrede dit die Mosaïese verbond tussen God en Israel verteenwoordig.

  • Die Ark van U sterkte (2 Kron 6:41), omrede die ark verteenwoordig wat God vir Israel was in krag en seëninge, en al die wonders daarmee saam.

  • Die heilige ark (2 Kron 35:3), omrede die ark die heiligheid van God verteenwoordig.


Die ark met sy gepaardgaande versoendeksel was die plek waar God met Moses ontmoet het (Ex 25:22). ’n Noukeurige beskrywing van die ark kry ons in Exodus sowel as Hebreërs:



  • Exodus 25:10-22

  • Hebreërs 9:1-5


Die ark was ’n reghoekige kis waarin die twee kliptafels, die tien gebooie, bewaar is (Ex 25:16). Die ark was van akasiahout gemaak en die enigste meubelstuk in die tabernakel wat spesiaal genoem word dat dit van binne en buite met goud oorgetrek was. Die ark het aan die sykante, bo, ’n goue krans rondom gehad. Dit was gemaak net onder die boonste rand van die kis op so ’n wyse dat dit effens oorgestaan het om die versoendeksel in posisie te hou. Die grootte van die ark was gemeet op 1,15 meter lank, 0,7 meter breed en 0,7 meter hoog. Aan die vier voete van die ark was vier goue ringe waarin die twee draaghoute geplaas is, hulle mag nooit daaruit weggeneem word nie. Op dié wyse kon die ark vervoer word op die woestyntogte. Die heilige ark mag nooit deur mensehande aangeraak word nie (Num 4:15; Ex 25:15). Ussa het sy hand na die ark van God uitgesteek en dit vasgehou, hy het dit ten koste van sy lewe gedoen (2 Sam 6:6-7). Deur al die omswerwinge van Israel is die ark gedra spesifiek deur die priesters, maar in die besonder deur die priesterlike geslag van Kehat, die Kehatiete (Num 3:27-31; 4:1-4, 15, 17-18).


In Hebreërs 9:4 lees ons van die voorwerpe wat in die ark was:



  • Die tafels van die verbond (Ex 25:16).

  • Die goue kruik met manna (Ex 16:33-35).

  • Die staf van Aäron wat gebloei het (Num 17).


Naas die ark in die Allerheiligste is die wetboek, of Torah, geplaas (Deut 31:9, 24-26). Al om die sewende jaar moes die hele wetboek, tydens die huttefees, deur die priesters voor die ore van die hele volk gelees word (Nehemia 8:1-19).


Hierdie ark van die verbond of Getuienis was die sentrale fokuspunt in die hele tabernakel, dit is staangemaak in die Allerheiligste plek van waar God se stem gehoor is bo die versoendeksel – die plek waar die twee gérubs met uitgespreide vlerke, met hul aangesigte na mekaar, op die versoendeksel gerig was. Een maal per jaar moes die hoëpriester die bloed van die sondeoffer op die versoendeksel sprinkel (Lev 16:3-16).


Die ark van akasiahout spreek nogeens van Jesus Christus se mensheid. Ook was dit oorgetrek met goud, wat Christus se Godheid tipeer. Die ark was die plek waar God met die volk saamgekom het (Ex 25:22), so kon die mens en God in die Nuwe Testament mekaar op geen ander plek ontmoet as net in Christus nie (Joh 14:6; Hand 4:12; 1 Tim 2: 3-6). Ten tyde van Israel se reis deur die woestyn moes die priesters die ark (hoewel bedek) op hul skouers dra sodat almal dit kon sien en volg (Num 10:33; Josua 3:3-4). Die laaste kleed waarmee die ark bedek was, was pers: letterlik blou purper (Ex 25:5; Num 4:5-6). Net só moet die Kerk Jesus ophef voor die wêreld (Joh 12:32). Die goue krans van suiwer goud rondom die ark spreek van die feit dat God Christus nou in die hemel met heerlikheid en eer gekroon het (Heb 2:9; Fil 2:9-11). Die heerlikheid (Shekinah) van God het op die ark gerus (Ex 40:21, 33-34).


Die tafels van die verbond


Hierdie was die tweede stel kliptafels wat die geskrewe wet van God wat Hy met sy eie vinger geskrywe het, bevat (Deut 10:1-5).


Hier is geen skaduwee of afbeeldsel nie; hier in die hart van die ark is die letterlike, lewende Woord van God, wat met sy eie vinger, op twee kliptafels geskryf is. Die kosbaarste skat wat God aan Moses en die volk Israel toevertrou het.


Die goue kruik met manna


In die ark was daar ook ’n kruik met manna (Ex 16:13-15; 33-35).


Die manna was die brood wat die Here uit die hemel aan die volk in die woestyn gegee het om te eet terwyl hulle op weg na die beloofde land was. Die goue kruik met manna was één van twee herinneringe wat die Here Moses beveel het; Aäron moes die kruik in die ark plaas. Die goue kruik met manna sou die mens herinner aan die Goddelike barmhartigheid en genade van God se voorsiening in sy volk se behoeftes. God het sy volk veertig jaar lank met die brood uit die hemel gevoed. Die manna in die kruik was ’n wonder as in ag geneem word dat die volk na die behoefte van elke dag moes insamel. Indien hulle meer as die dag se voorraad ingesamel het, het dit sleg geword (Ex 16). En tog het die manna in die goue kruik behoue gebly.


Jesus Christus self toon aan ons dat Hy die groot antitipe van die manna in Johannes 6 is. Toe die Jode vir Moses die krediet gee vir manna uit die hemel, stel Jesus die saak reg deur te sê dit was sy Vader wat die manna (brood) gegee het (Joh 6:31-32)


Die gelowige word gevoed deur die Here Jesus Christus die vernederde, die gekruisigde, maar ook die verheerlikte. Dit is dan ook Hy wat aan sy Kerk (die gemeente) ’n kosbare belofte gegee het: “Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die verborge manna” . . . (Op 2:17). “Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?” (1 Joh 5:5).


Die staf van Aäron


Behalwe die wet en die manna was daar ook nog Aäron se staf in die ark (Heb 9:4). Die staf was die embleem van God se uitverkose priesterskap van Aäron.


Korag, een van die leiers in Israel, en saam met hom Datan en Abiram en tweehonderd-en-vyftig man, het teen die gesag van Aäron en sy priesterlike familie in opstand gekom. Ons lees van hierdie opstand in Númeri 16 en ook van die rampspoedige gevolge daarvan. God moes die rebelle straf en die gesag en bediening van sy gekose diensknegte bewys en bevestig.


Elkeen van die twaalf stamme moes toe ’n staf met die naam van die hoof van die stam daarop, voor die Here in die tabernakel voor die ark lê. Die volgende môre toe Moses in die Allerheiligste plek ingaan, sien hy dat “die staf van Aäron, vir die huis van Levi, gebloei het: dit het bloeisels laat uitspruit en blomme laat oopgaan en amandels laat ryp word!” (vers 8). Daar was hierna geen twyfel onder die stamhoofde en die volk wie God se uitverkose priesterlike stam is nie.


Die staf van Aäron is ’n tekenende beeld van Christus se vleeswording: Hy tog het soos ’n loot voor sy aangesig opgespruit en soos ’n wortel uit droë grond (Jes 53:2). Net soos die staf van Aäron voor die ander gebring is, so is Christus ook voor die mens gebring om gekruisig te word (Joh 19:5). Hy is gedood, “afgesny uit die land van die lewendes” (Jes 53:8). Maar Hy het daarna opgestaan uit die dode (Rom 6:9). Van al die bome is die amandelboom die eerste een wat bloei. Die bloeisels spreek van lewe en opstanding. Hy is die eersgeborene uit die dode (Kol 1:18). Blomme spreek van skoonheid: “U is veel skoner as die mensekinders” (Ps 45:3). Amandels spreek van vrugbaarheid: Hy sal ’n nakroos sien (Jes 53:10);  ’n Nageslag sal Hom dien (Ps 22:31), en hier is Ek en die kinders wat God My gegee het (Heb 2:13). In die staf sien ons die dood, opstanding en heerlikheid van Christus.

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Die Sewe Huisraadstukke Van Die Tabernakel

Ons vind twee dinge in die voorhof waarop ons aandag gevestig word, naamlik die koperaltaar en die koperwaskom. Altesame was daar sewe items of stukke huisraad rakende die tabernakel. Twee in die voorhof, drie in die Hei...

More

Ons wil graag Raymond D. Lombard Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.raymondlombard.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid