Leesplan inligting

Die Sewe Huisraadstukke Van Die TabernakelVoorbeeld

Die Sewe Huisraadstukke Van Die Tabernakel

DAG 5 VAN 7

DIE GOUE REUKALTAAR


Die goue reukaltaar as die vyfde stuk huisraad van die tabernakel het reg voor die voorhangsel in die heiligdom gestaan, maar ‘n fraksie dieper in as die tafel met die toonbrode en die goue kandelaar. Die goue reukaltaar is die derde meubelstuk in die heiligdom. Dit het reg voor die ark van God gestaan, waar die troon van God was. Die voorhangsel het die reukaltaar en ark van mekaar geskei.


Die Here se voorskrif aangaande die goue reukaltaar is in Exodus Exodus 30:1-10; 34-36 opgeteken.


Die reukaltaar was van akasiahout gemaak en met goud oorgetrek. Die reukaltaar het vier horings gehad en ’n goue krans rondom aan die bokant van die altaar om te verhoed dat die kole afval. Elke môre en elke aand moes op hierdie altaar reukwerk gebrand word. Die vuurpan moes vol gloeiende kole wees. Die kole het gekom van die brandofferaltaar waar offers gebring is. Dit was hierdie kole wat die reukwerk op die goue reukaltaar aangesteek het. Ons lees daarvan in Levitikus 16:13: “En hy moet die reukwerk op die vuur lê voor die aangesig van die HERE, dat die wolk van die reukwerk die versoendeksel wat op die Getuienis is, kan oordek.” Een maal in ’n jaar tydens die groot versoendag het die hoëpriester aan die horings van die goue reukaltaar versoening gedoen “met die bloed van die sondoffer van versoening” (Ex 30:10). Die heel eerste vermelding van ’n altaar in die Bybel is dié van Noag. En dit was vir aanbidding: “En Noag het vir die HERE ’n altaar gebou . . . en brandoffers op die altaar gebring. En die HERE het die lieflike geur geruik . . . (Gen 8:20-21).


Wanneer ons na die reukaltaar kyk, word ons deur die akasiahout en die goud waarmee die reukaltaar oorgetrek is, opnuut herinner aan die tweevoudige natuur van Christus – Christus se menslike natuur (die hout) en sy goddelike natuur (die goud). Die goue krans (Engels: crown) rondom die reukaltaar spreek tot ons van die verhoogde en verheerlikte Christus aan die regterhand van die Vader as ons Voorspraak (Heb 7: 25; 8: 1; 1 Joh 2: 1).


Die vier horings, soos in die geval van die koperaltaar, spreek ook van krag. In die geval van die koperaltaar het dit gespreek van die krag in die bloed; in hierdie geval spreek dit tot ons van krag in gebed.  Wie is dit wat ons gebede versterk behalwe Christus? “Ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige” (1 Joh 2:1).


Hierdie reukaltaar het die sentrale plek in die heiligdom beklee – dit het tussen die tafel met die toonbrode en die goue kandelaar reg voor die voorhangsel gestaan. Die reukaltaar was ook die hoogste meubelstuk in die heilige plek, en spreek dan ook van die grootste handeling van aanbidding moontlik, gebed, lof, voorbidding en aanbidding. Gebed is die belangrikste bediening. By die koperaltaar vind ons gestorte bloed om versoening moontlik te maak; by die reukaltaar vind ons Christus leef in die hemel om vir ons in te tree en voorbidding te doen. Die koperaltaar spreek dus van die dood van Christus, die reukaltaar spreek van die lewende, opgestane en lofwaardige Here Jesus Christus. Hierdie twee altare spreek dus van die dood en opstanding van Christus, dit is dan ook die evangelieboodskap (1 Kor 15:3-4).


Aäron het elke môre en aand die reukwerk van speserye op die reukaltaar aan die brand gesteek as ’n voortdurende reukwerk van lieflike geur voor die aangesig van die Here. Dit het die hele tabernakel gevul en in die besonder die Allerheiligste, waar die ark en die versoendeksel met die gérubs was. Ons lees van hierdie reukwerk in Exodus 30:34-38. Dit was ’n geur wat vier bestanddele gehad het: storaksgom, naeltjies, gálbanum – speserye en ook suiwer wierook, alles in gelyke hoeveelhede (Ex 30:34). Elkeen van die bestanddele het sy eie geur gehad, maar wanneer dit gemeng is, het dit een geur versprei. Die vier samestellings van die reukwerk spreek van Christus se lewe, dood, opstanding en hemelvaart (Ef 5:2; Heb 7:27). Hierdie vier aspekte van Christus is onafskeidbaar en die een kan nie afsonderlik van die ander as genoegsaam beskou word nie. Die een gee aan die ander volle betekenis.


Daar moes sout by die reukwerk gevoeg word (Ex 30:35). Die Bybel spreek van die sout van die verbond (Num 18:19; 2 Kron 13:5), en dit beteken hier die Woord van God. ’n Onverbreekbare verbond. Sout is nie aan verderf onderhewig nie, en is daarom ’n beeld van duursaamheid.  ’n Vasstaande, voortdurende verbond wat as’t ware telkemale weer vernuwe is wanneer die sout by die reukwerk gevoeg is. Jesus self het by geleentheid gesê: “Want elkeen sal met vuur gesout word en elke offerande sal met sout gesout word. Die sout is goed, maar as die sout souteloos word, waarmee sal julle dit smaaklik maak? Julle moet sout in julle hê en vrede hou met mekaar” (Mark 9:49-50). Die gebed moet met die Woord gemeng word. Staan daar dan nie geskrywe nie “Julle wat die Here herinner aan sy beloftes, moenie swyg nie”? Die waarde van die altaar het in die reukwerk gelê. Die reukwerk spreek van gebed. Koning Dawid spreek in Psalm 141:2: “Laat my gebed soos reukwerk voor u aangesig staan.” Die apostel Johannes vertel ons in sy gesig van die hemel: “en toe Hy (Christus) die boek neem, val die vier lewende wesens en die vier-en-twintig ouderlinge voor die Lam neer; elkeen met siters en goue skale vol reukwerk wat die gebede van die heiliges is” (Op 5:8).


Die Here stel dit duidelik dat die speserye van die reukwerk suiwer en heilig moet wees (Ex 30:35, 37). Koning Dawid vra: “En wie mag staan in sy heilige plek? Hy wat rein van hande en suiwer van hart is” (Ps 24:3-4). Daarom moet elke gelowige die Here God in sy hart heilig sodat hy aan die Here ’n welaangename en welriekende offer kan bring met die vrug van sy lippe (Heb 13:15).

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Die Sewe Huisraadstukke Van Die Tabernakel

Ons vind twee dinge in die voorhof waarop ons aandag gevestig word, naamlik die koperaltaar en die koperwaskom. Altesame was daar sewe items of stukke huisraad rakende die tabernakel. Twee in die voorhof, drie in die Hei...

More

Ons wil graag Raymond D. Lombard Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.raymondlombard.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid