Leesplan inligting

Die Sewe Huisraadstukke Van Die TabernakelVoorbeeld

Die Sewe Huisraadstukke Van Die Tabernakel

DAG 7 VAN 7

DIE VERSOENDEKSEL


Die versoendeksel was simbolies van God se troon en heerlike teenwoordigheid. Dit is die sewende en laaste stuk huisraad in die tabernakel. God het vir Moses gesê: “Ek verskyn in die wolk op die versoendeksel” (Lev 16:2). Ons vind die beskrywing van die versoendeksel in Exodus 25:17-22.


Die versoendeksel was ’n stuk soliede goud wat die ark bedek het, terselfdertyd was dit ook die genadetroon (Engels: mercy seat) van God.  


Moses is deur die Here beveel: “Maak ook twee gérubs van goud. Van dryfwerk moet jy hulle maak, aan die twee ente van die versoendeksel” (Ex 25:18). Die twee gérubs is uit een stuk, saam met die versoendeksel, gemaak – dit was een geheel. Van dryfwerk is die twee gérubs gemaak. Dryfwerk laat ons aan lyding dink, verbreking en vergruising. Die gérubs het op die genadetroon gestaan en was deel daarvan. Hulle aangesigte na mekaar toe was gerig op die versoendeksel (Engels: mercy seat).


Betreffende die Here Jesus Christus lees ons in Romeine 3:25: “Hom het God voorgestel in sy bloed as ’n versoening deur die geloof.” Die woord “versoening” is die vertaling van die Griekse woord hilasterion, wat letterlik “versoendeksel” beteken. “Versoening” (hilasterion) beteken derhalwe die plek waar hilasmos of boetedoening gemaak word. In die Ou Testament was dit op die versoendeksel (Ex 25:17; Heb 9:5). As hilasterion (versoening) nou letterlik “versoendeksel” beteken en Christus is ook ons hilasterion of versoening (Rom 3:24; 1 Joh 4:10), dan sê dit vir ons dat Christus self die plek is waar die Heilige God met die sondaarmens ontmoet.  


Anders gestel, Jesus aan die kruis was die plek waar God se geregtigheid en vrede mekaar gekus het (Ps 85:11); waar God versoen en tevrede gestel is dat sonde deur die dood van Christus gestraf is. Aan die kruis, in Jesus Christus, betaal God se liefde vir die sondaar die vereiste straf van sy geregtigheid. Omdat God nou tevrede is (versoen) dat sonde gestraf is, kan Hy die sondaar wat tot Hom kom, vergewe en aanneem; nie op grond van blote Goddelike toegewendheid nie, maar op ’n wettige basis.


Die aangesig van die twee goue gérubs met uitgespreide vlerke was gerig op die versoendeksel, waarop die bloed gesprinkel was. Die heerlike wesens in die hemel, gérubs en engele, is baie begerig om te weet en in te sien die dinge wat die Kerk van Jesus Christus raak (1 Pet 1:12; Luk 15:10; Ef 3:8-10). Die twee gérubs se oë was gedurig op die bloed. Daar is geen bewys dat die bloed ooit van die versoendeksel afgevee is nie. Dit was rooi bevlek met die bloed van jare se sondoffers. Die bloed waarop hulle gesigte hier gerig word, spreek van genade en vergifnis as gevolg van die versoening. In Hebreërs 4:16 word gelowiges gemaan “om met vrymoedigheid na die troon van genade (te) gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word”.


Ons as wedergebore gelowiges weet, en ons is verseker daarvan, dat ons vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees (Heb 10:19-20).


Vir meer inligting en studies oor die boeke van die Bybel, besoek Raymond Lombard Ministries 

Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Die Sewe Huisraadstukke Van Die Tabernakel

Ons vind twee dinge in die voorhof waarop ons aandag gevestig word, naamlik die koperaltaar en die koperwaskom. Altesame was daar sewe items of stukke huisraad rakende die tabernakel. Twee in die voorhof, drie in die Hei...

More

Ons wil graag Raymond D. Lombard Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.raymondlombard.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid