Leesplan inligting

Om na God te LuisterVoorbeeld

Listening To God

DAG 9 VAN 18

Hoe Om Aktief Te Luister



Samuel was een van die grootste profete in die Ou Testament. Ek glo nie dit is toevallig dat sy eerste opdrag van God was om na die stem van God te luister nie (sien 1 Samuel 3:8-10). Samuel se verhaal wys vir ons daar is 'n verskil tussen aktief luister en passief hoor. Om te hoor is iets wat ons met ons ore doen. As ons gehoor normaal is, kan ons nie anders as om klanke te hoor wat binne 'n sekere omvang beweeg nie. Om te luister betrek egter ook die verstand. Om regtig te luister is 'n aksie. Dit behels dat die verstand ingestel moet word om alles te hoor wat gesê word, asof dit vir die luisteraar betekenis het.



Dit is hoe God ons roep om na Hom te luister: aktief. Hy vereis ons volle en onverdeelde aandag. Kom ons kyk na wat ek glo, die 10 sleutelfasette is van aktief te luister:



1. Met verwagting — As ons aktief gaan luister, moet ons vol verwagting tot die Here nader. Ons moet gretig verwag dat Hy met ons sal praat.



2. In stilte — Die Here sê vir ons: "Bedaar en erken dat Ek God is." (Psalm 46:11) As ons van God gaan hoor, moet ons stil wees en Hom toelaat om te praat.



3. Geduldig — Die Here vertel ons nie altyd alles tegelykertyd of onmiddellik nie. Soms gee Hy 'n gedeelte van sy boodskap op 'n keer, en op 'n ander tyd die ander deel. Ander kere hoor ons eers 'n boodskap van Hom nadat ons vir 'n tydperk gewag het.



4. Met selfvertroue — Terwyl ons na God luister, moet ons vol vertroue wees dat ons sal hoor wat ons moet hoor. Dit mag nie altyd wees wat ons wil hoor nie, maar ons kan God vertrou om ons te vertel wat ons moet weet, sodat ons besluite kan neem en dinge in ons lewens kan verander wat uiteindelik tot ons beswil is.



5. In afhanklikheid — Het jy al ooit die aanmerking gehoor: "Doen dit asof jou lewe daarvan afhang?" Dit is die manier om te luister, want ons lewens hang af van wat ons hoor. Ons moet geen ander agenda as God se agenda vir ons lewens hê nie.



6. Openhartig — Ons moet na God kom met 'n hart en verstand wat oop is om alles te ontvang wat Hy kies om aan ons te gee. Om met openhartigheid te luister beteken om gewillig te hoor hoe God ons teregwys asook vertroos, om ons te oortuig sowel as om ons te verseker, en om sy berisping asook sy lof vir ons te hoor. 



7. Aandagtig — Om aandagtig te luister beteken om aan elke woord aandag te skenk. Dit is meer as om te verwag dat God sal praat. Dit is om na elke woord te luister, fyn onderskeid te tref na betekenisse van die boodskap wat God gee. Wanneer ons waarlik aandagtig luister, mis ons niks nie!



8. Sorgvuldig — Om sorgvuldig te luister is om die Heilige Gees se bevestiging te kry dat die woord wat ons hoor werklik 'n woord van God is. Ons moet alles wat ons hoor aan dié toets onderwerp. Dit moet ooreenstem met die geskrewe Woord van God.



9. In onderdanigheid — Om onderdanig te luister, beteken dat jy luister met die volle voorneme om gehoorsaam te wees. As jy beplan om gehoorsaam te wees aan dit wat jy hoor, sal jy natuurlik sorg dat jy verstaan. Om jou aan God se Woord te onderwerp, is die enigste manier waarop jy ooit werklik sin en doel in die lewe kan vind. Slegs as jy jou aan God onderwerp, kan jy duidelik van Hom hoor en in 'n posisie wees waar die Here vir jou alles kan doen wat Hy belowe het. 



10. Eerbiedig — 'n Eerbiedige hart staan met ontsag voor God. Wat 'n voorreg het ons om te hoor van die God van die heelal, die Skepper van alles wat bestaan. Wanneer ons eerbiedig luister, luister ons met verwondering — eerstens dat God hoegenaamd met ons praat, en tweedens dat God ons nooi om deel van sy planne en voornemens te wees.



Al hierdie fasette van aktief luister, is maniere waarop ons waarlik "ore het om te hoor." Jesus het herhaaldelik aan sy dissipels gesê: "Wie ore het om te hoor, laat hom hoor" (Matteus 11:15; 13:9; 43). Mag dit altyd waar wees vir elkeen van ons.


Dag 8Dag 10

Aangaande hierdie leesplan

Listening To God

Praat God steeds vandag met ons? Indien wel, hoe kan ons sy stem onderskei van die misleiding en verdraaiings van die vyand? Sluit by Dr. Charles Stanley aan waar hy jou leer hoe om God se stem te identifiseer, aktief te...

More

Ons wil graag "In Touch Ministries" bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Besoek gerus https://intouch.cc/church-yv vir meer inligting

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid