Ons Berei Ons Harte Voor Vir Paasfees: 'n Oordenking Tydens die VastydVoorbeeld

Preparing Our Hearts for Easter: A Lenten Devotional

DAG 38 VAN 40

Dag 38: Die Wasproses

In die 1983 vertaling lees Johannes 13:1b as volg: “Hy het sy eie mense wat in die wêreld is, liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad.” Met die onverwagse daad van voete was, het Jesus iets baie diepgaande omtrent Goddelike liefde oorgedra. Liefde behels nie net wat Jesus doen nie, Hy IS liefde.

Ons dink dikwels dat, om iemand lief te hê, gaan oor wat ons vir daardie persoon doen of hoe ons teenoor die persoon optree. Ons vra onsself: “Wat is die liefdevolle ding om te doen?” Jesus se onverwagte, beskeie daad laat ons egter eerstens wonder: “Wie is ek?” As ons nie eers dié vraag vra nie, kan ons ons liefde beperk. Dan tree ons nie op soos iemand wat deur die evangelie verander is nie. As ons onsself byvoorbeeld as weeskinders sien wat vir hulleself moet sorg, in plaas daarvan as God se geliefde kinders, sal ons ons vrygewigheid teenoor ander beperk, omdat ons bang is dat ons nie genoeg het om te gee nie. As ons dink ons kan onsself regverdig deur goeie dade, plaas dit 'n beperking op die wyse waarop ons ander dien. Ons trots keer ons om dié wat dit nie “verdien nie”, te dien.

As ons egter na Christus kyk, vind ons 'n wonderlike vryheid om ander te dien. Dit spruit voort uit die wete dat ons identiteit in Hom te vinde is: “Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem … ” (Filippense 2:6-7). Jesus was in staat om lief te hê op 'n manier wat niemand verwag het nie. Hy kon dit doen omdat Hy die Vader se liefde intiem geken het. Dieselfde hart wat Hom genoop het om die dissipels se voete te was, sou Hom na die kruis lei. Ons is in dieselfde bevoorregte posisie as gevolg van wat Christus gedoen het. Ons kan ander nou op dieselfde radikale, liefdevolle manier dien as wat Hy ons gedien het.

Gebed

Hemelse Vader, ek vergeet elke dag wie ek in Christus is en die genade wat my lewe omvou. My liefde het perke, omdat ek nie optree soos wat U my gemaak het om op te tree nie. Help my om te besef dat ek u geliefde kind is. Slegs dán kan u liefde deur my vloei. Help my om ander te dien sonder om perke aan my liefde te stel. In die Naam van Jesus. Amen.

Kopiereg (c) 2012 deur Redeemer Presbyterian Church.

Aangaande hierdie leesplan

Preparing Our Hearts for Easter: A Lenten Devotional

Wat is die Vastydperk? Dit is die tyd wanneer ons in afwagting is vir die oorwinning wat die lig en lewe van Christus oor die duisternis van sonde en dood gebring het. Soos ons die gebeure volg van Aswoensdag tot Paasfees, word ons herinner aan die werklikheid van ons swakheid en God se verlossende genade.

More

Hierdie oordenking is geskep deur die personeel van die Redeemer Presbyterian Church en is oorspronklik in 2012 op die webblad www.redeemer.com geplaas. Dit word met toestemming gebruik.