Ons Berei Ons Harte Voor Vir Paasfees: 'n Oordenking Tydens die VastydVoorbeeld

Preparing Our Hearts for Easter: A Lenten Devotional

DAG 31 VAN 40

Dag 31: Die Melaatse

Om melaats te wees was een van die mees tragiese dinge wat met iemand kon gebeur in die antieke wêreld. As 'n melaatse naby ander mense gekom het, moes hy uitroep: “Onrein! Onrein!” sodat die verbygangers nie naby moes kom nie. 'n Melaatse moes "in afsondering, buite die kamp” woon om sodoende die risiko van oordrag te verminder (Levitikus 13:45-46). 'n Melaatse was deurentyd afgesonder en verneder.

Toe kom Jesus egter en verander alles. Een van die dinge wat die evangelies so spesiaal maak, is hoe dikwels dit vertel van Jesus se interaksie met melaatses. Hy het hulle genader en hulle het Hom genader. Hy het hulle met respek en vriendelikheid behandel. Hy het selfs die ondenkbare gedoen: Hy het aan hulle geraak en sy aanraking het hulle gereinig. Jesus het die melaatses gesond gemaak.

Verskeie Bybelkenners het al uitgewys dat daar 'n ooreenkoms is tussen die fisieke toestand van melaatsheid en die geestelike toestand van sonde. Sonde in ons lewe isoleer ons van God en mense. Ons sal dit nie regkry om dit te verwyder of weg te neem nie; die vlek van sonde is altyd teenwoordig. Soos Lady Macbeth probeer ons die vlek van sonde wegwas deur uit te roep: “uit, vervlakste vlek”, maar dit help alles niks nie. Ons is onrein en ons weet dit.

Die goeie nuus van die evangelie is dat Jesus Christus 'n aansteeklike reinheid het. Toe Hy aan 'n melaatse geraak het, het Hy nie aangesteek nie. Die melaatse het rein geword. Dié wat wanhopig probeer om hulle sonde te verwyder, moet toelaat dat die man wat aansteeklike reinheid het, hulle aanraak. Net soos die melaatse in die storie, moet ons wat die aanraking ondervind het, 'n oneindige dankbaarheid hê en openlik praat oor ons ontmoeting met die Een wat aansteeklike reinheid het.

Gebed

Hemelse Vader, ons dank U vir u Seun wat alles rein maak wat Hy aanraak. Mag ons harte en dade deur genade vandag en elke dag deur Hom aangeraak word. In die Naam van Jesus. Amen.

Kopiereg (c) 2012 deur Redeemer Presbyterian Church.

Aangaande hierdie leesplan

Preparing Our Hearts for Easter: A Lenten Devotional

Wat is die Vastydperk? Dit is die tyd wanneer ons in afwagting is vir die oorwinning wat die lig en lewe van Christus oor die duisternis van sonde en dood gebring het. Soos ons die gebeure volg van Aswoensdag tot Paasfees, word ons herinner aan die werklikheid van ons swakheid en God se verlossende genade.

More

Hierdie oordenking is geskep deur die personeel van die Redeemer Presbyterian Church en is oorspronklik in 2012 op die webblad www.redeemer.com geplaas. Dit word met toestemming gebruik.