Ons Berei Ons Harte Voor Vir Paasfees: 'n Oordenking Tydens die VastydVoorbeeld

Preparing Our Hearts for Easter: A Lenten Devotional

DAG 15 VAN 40

Dag 15: Die Verlatene

Psalm 22 is die eerste van 'n klomp Psalms wat die lyding van iemand beskryf wat ooreenstem met die Skrifgedeeltes in Jesaja wat die lyding van die Here voorspel. Die eerste reël in die Psalm is dalk aan jou bekend. Dit is dieselfde woorde wat Jesus uitgeroep het toe Hy gekruisig was. Tog is die Psalm baie jare voor dit deur Dawid geskryf. Alhoewel Dawid sy eie lyding beskryf het, was dit ook profetiese woorde wat beskryf hoe Christus duisende jare later ter wille van ons verlossing aan die kruis sou ly.

Jesus sou heel waarskynlik die Psalm verskeie kere in sy lewe gelees het tydens tye van aanbidding in die tempel. Hy het dit waarskynlik gememoriseer, want toe Hy aan die kruis gehang het, het Hy dit aangehaal.

Jesus kon bang en vreesagtig geleef het, omdat Hy geweet het wat vir Hom wag. In plaas daarvan het Hy, net soos Dawid, vasgehou aan dit wat waar is: God is heilig, God is sy God en God was sy hele lewe lank betroubaar. Gebaseer op hierdie waarhede, het Dawid God gesmeek om naby aan hom te bly. Jesus het geweet dat sy ergste lyding sou plaasvind as God hom verlaat. Dit was nodig sodat sy volgelinge nooit deur God verlaat sou word nie.

Die Psalm eindig met lofprysing en oorwinning: “die Here het dit gedoen.” Jesus het tot die einde volhard, ons sonde gedra en die prys betaal sodat ons met God versoen kon word. Die messiaanse toon van die Psalm word duidelik wanneer Dawid verklaar dat die vorige, sowel as die toekomstige geslagte, almal sal weet dat sy God 'n God is wat sy volk uit hulle lyding verlos. Juis omdat Jesus (vir ons!) deur God verlaat was, kan ons verseker wees dat God altyd naby ons is, al voel dit vir ons of Hy ver van ons af is terwyl ons in nood en lyding verkeer.

Gebed

Genadige Vader, ons weet dat Jesus geweet het hoe dit voel om deur God verlaat te word, net sodat ons dit nooit hoef te ervaar nie. Ons loof U daarvoor! Versterk ons geloof om waarlik te glo dat dit waar is, veral as ons dink ons het rede om dit nie te glo nie. In die Naam van Jesus. Amen.

Kopiereg (c) 2012 deur Redeemer Presbyterian Church.

Aangaande hierdie leesplan

Preparing Our Hearts for Easter: A Lenten Devotional

Wat is die Vastydperk? Dit is die tyd wanneer ons in afwagting is vir die oorwinning wat die lig en lewe van Christus oor die duisternis van sonde en dood gebring het. Soos ons die gebeure volg van Aswoensdag tot Paasfees, word ons herinner aan die werklikheid van ons swakheid en God se verlossende genade.

More

Hierdie oordenking is geskep deur die personeel van die Redeemer Presbyterian Church en is oorspronklik in 2012 op die webblad www.redeemer.com geplaas. Dit word met toestemming gebruik.