Advent: Die Reis Tot By Kersfees

Bybeldagboek

Die Eerste Belofte

Weet jy dat Kersfees die eerste belofte was wat God ooit gemaak het? In Genesis lees ons dat toe Adam en Eva die eerste sonde in die Tuin van Eden gepleeg het, die mens van God se teenwoordigheid verwyder is. Sonde het ons van onskuld beroof en ons onrein gemaak. Omdat God heilig en perfek is, kan Hy nie in 'n verhouding staan met iemand wat onrein is nie. Hierdie verwydering het God se hart gebreek, want Hy is liewer vir ons as wat ons ooit kan begryp. God het dadelik 'n plan beraam om versoening te bring. Van die begin van die mensdom af, sou Jesus deel van die storie wees.

God het satan daardie dag goed laat verstaan wat met hom sou gebeur. Hy het gesê: “Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.” (Genesis 3:15) Iewers, in Eva se nageslag, sou daar 'n Redder kom wat vir ewig satan se krag breek wat verwydering tussen God en die mens bring. Satan sou probeer om Hom te stop, maar die Redder sou sy kop vermorsel. Daar is geen omdraaikans nie!

Kersfees is die begin van God se proses om ons verhouding met Hom, deur middel van 'n nuwe verbond, te herstel. Die wêreld het duisende jare lank vir God se beloofde Redder gewag en toe uiteindelik was Hy hier. Die Een wat sonde en die dood vir ewig en altyd sou oorwin, het "God Met Ons" geword.

Kom ons fokus op die vervulling van God se belofte wanneer ons die Adventtyd binnegaan. Erken dat God getrou bly aan Sy Woord en dink na oor die waarheid dat Hy ons so lief het dat Hy sy perfekte Seun gestuur het om in 'n sondige wêreld gebore te word, sodat Hy 'n verhouding met jou kan hê.

Gebed: Vader, ek is verwonderd dat U eerste reaksie op ons sonde, 'n belofte was dat dit ons nie vir ewig van mekaar sou skei nie. Dankie dat U van die begin af besluit het om Jesus te stuur om vir ons 'n manier te gee om in 'n verhouding met U te wees. Gee vir my hierdie Kersfees 'n dieper openbaring van wat U teweeggebring het toe Jesus aarde toe gekom het. Laat my die vreugde ervaar wat U gehad het toe Jesus gebore is en die vervulling van U belofte in werking getree het.

Laai vandag se beeldhieraf.