YouVersion Logo
Search Icon

Plan Info

Die Geloof Van GebedSample

Die Geloof Van Gebed

DAY 2 OF 7

God is nie ’n robot nie Ek (Stephan Joubert) behartig vir die afgelope 14 jaar ’n klein rubriek in die dagblad Beeld van Dinsdae tot Saterdae, ook bekend as “Goeie Nuus”. Soms ontlok sekere rubrieke meer reaksie en interaksie as gewoonlik, soos die een van 12 September 2017. Ek plaas dit graag en deel dan nog 'n opmerking of twee daarna: “Die gewildste ‘geestelike’ opmerking van ons dag is sekerlik: ‘everything happens for a reason.’ Almal gebruik dit. In elke TV-storie en fliek hoor jy dit. Baie gelowiges meen dis ʼn Bybelse leerstuk. Hulle sê graag: ‘Alles gebeur met ’n doel’ of ‘Wat moet gebeur, sal gebeur’. Feit is, die Bybel leer dit nie. Die Bybel handhaaf God se almag, maar nooit word Hy uitgebeeld as ’n onpersoonlike hemelse programmeerder wat almal op aarde tot in die verste ewigheid vooruit geprogrammeer het nie. Dan is ons robotte. Dan is ons deel van ’n voorafvervaardigde hemelse film wat nou in die hemel afspeel en wat glad nie gewysig kan word nie. Dan help gebed niks en die grap is op ons. Gelukkig is God nie so nie. Hy is nie ’n robotagtige figuur nie. Hy, die Almagtige, is ook ons Vader. In Christus is Hy die God van verhoudings. Hy laat Hom vind deur elkeen wat na Hom soek. Hy luister na ons gebede en verander ons omstandighede.” Ek was verstom dat mense my nie te veel afgeslag het omdat ek die planeet se gunsteling een-reël-slagspreuk, “ everything happens for a reason ” aangedurf het nie. Baie mense het my vertel hulle het met sulke clichés grootgeword. Toe onthou ek dat hierdie einste verwarring my ook vroeg-vroeg getref het omdat ek ook met ’n “robotagtige" godsbeeld opgegroei het. Ek het God se werk eintlik net insidenteel verstaan (veral wanneer slegte dinge gebeur, want dan is ek geleer: “God praat nou weer hard met ons!”), maar nooit relasioneel of verhoudingsmatig nie. Ek het egter besef dat so ’n “robotagtige teologie” net werk as alles stabiel is en die lewe soos stroop loop, maar definitief nie in ’n chaotiese Suid-Afrika nie. Gelukkig werk dit ook nie in die Nuwe Testament nie! God is ons Vader. Dis hoe Hy by ons aanwesig is. Elke keer troos Hy en dra Hy ons. Sy troos is nooit: “Toemaar, Ek is in beheer” nie. Sy troos is altyd: “Ek is hier/Ek is by julle!”  Die grootste Bybelse troos vanuit Romeine 8 is nooit genoeg in ons almal ingeprent nie. Daar vra Paulus of enigiets in hierdie lewe ons kan skei van die liefde van God. Dan noem hy alle moontlike dinge op wat die potensiaal het om dit te doen, soos honger, gevaar, die swaard, sonde, bose magte of die dood. Maar dan roep Paulus uit: Nee, niks kan ons van die God van liefde skei nie. Hy is ons Vader in Christus. Hy is by ons. Daarom sê Paulus in Romeine 14 dat, of ons lewe en of ons sterwe, ons is Christus s’n. Die gevolgtrekking: Die Nuwe Testament se groot antwoord op die vraag van God is relasioneel, nie rasioneel nie! Rasioneel? Wel, dis daardie soort opmerkings soos “Toemaar, jy sal later verstaan,” of die standaard ene: “Alles gebeur met ’n rede.” Hierdie is kop-antwoorde (en ten beste net halwe waarhede). Relasioneel? Wel, God is ons Vader. Hy werk nie insidenteel nie, maar relasioneel. Hy is die God van verhoudings, nie van insidente nie. Hy is altyd en orals by ons.
Day 1Day 3

About this Plan

Die Geloof Van Gebed

Voel dit asof jy teen jou huis se plafon vasbid? Voel dit asof God nie jou gebede hoor, of selfs vinnig genoeg antwoord nie? Wonder jy of jou geloof dalk die probleem is vir jou gebedslewe? Volg ons saam oor die volgende...

More

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy