YouVersion Logo
Search Icon

DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoopSample

DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoop

DAY 15 OF 40

Ragab hang ‘n rooi tou van redding aan die venster

Toe die Israelitiese verspieders by Ragab in die herberg aankom het sy hulle moedig beskerm en gehuisves. In dankbaarheid daarvoor het die verspieders beloof dat sy en haar familie gespaar sou word wanneer die stad ingeval word, mits sy 'n rooi tou aan haar venster hang:

“Jy moet hierdie rooi tou waarmee jy ons deur die venster gaan laat afsak aan die venster vasbind wanneer ons in die land kom. Jy moet dan jou pa en jou ma, jou broers en jou hele familie hier in jou huis laat bymekaarkom” (Josua 2:18, NLV).

Sy het gehoor van God se grootse dade en sy het geglo dat Hy almagtig is. Hierdie geloof het haar oortuig om op te tree – om die rooi tou as 'n simbool van redding te gebruik. Die rooi tou in Ragab se verhaal verwys terug na die bloed van lammers wat tydens die eerste Pasga in Egipte aan die deurposte gesmeer is – ‘n teken van verlossing van die dood.

Soos die Israeliete beskerming gevind het in die bloed aan die deurkosyne, vind ons vergifnis, redding en nuwe lewe in die bloed van Jesus wat vir ons aan die kruis gestort is. Net soos Ragab se huis deur haar geloof, moed en gehoorsaamheid gespaar is, red die bloed van Jesus, die Lam van God, ons vandag van die ewige dood.

Dit spreek van die nuwe verbond wat in Christus vervul sou word. Hierdie rooi tou roep ons tot geloof, moed en gehoorsaamheid – die sleutels tot ware redding. Dit herinner ons dat God se beloftes altyd standhou en dat ons deur Christus deel kan hê aan sy oorvloedige genade en ewige verlossing.

Hoe kan jy vandag in geloof en gehoorsaamheid op God se uitnodiging reageer? Dalk vra Hy jou om op 'n spesifieke manier op te tree, 'n pad van versoening in te slaan, of iemand anders te vertel van sy genade. Soos Ragab, kan jou optrede nie net jou eie lewe verander nie, maar ook die lewens van die mense om jou.

Bind ‘n klein rooi lint in hierdie derde week aan jou sleutelbos, tas, of in jou huis as ‘n visuele herinnering aan God se getrouheid en die offer van Jesus. Elke keer as jy die lint sien, bid en dank God vir sy genade oor jou lewe. Dink ook aan iemand in jou lewe wat dalk redding of bemoediging nodig het. Deel die boodskap van Jesus se liefde en nooi hulle uit na ‘n kerkdiens of vir ‘n geestelike gesprek.

Gebed

Hemelse Vader, dankie vir ubloed wat my vrymaak en red. Dankie vir die belofte van beskerming en lewe wat ons deur Jesus ontvang. Help my om soos Ragab in geloof en gehoorsaamheid aan uWoord te lewe. Gee my die moed om u lig uit te straal en u genade met ander te deel. Amen.

About this Plan

DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoop

Stap saam op 'n reis van 40 dae, waar die rooi draad van genade jou lei van Ragab se venster in Jerigo tot by die kruis op Golgota. Hierdie 40-dae plan onthul hoe God se genade geen grense het nie, en hoe geloof en gehoorsaamheid 'n hele nuwe bestemming kan skep.

More