YouVersion Logo
Search Icon

DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoopSample

DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoop

DAY 14 OF 40

God roep mense tot gehoorsaamheid

erigo was ‘n stad gebukkend onder God se oordeel—’n plek bestem vir vernietiging weens die boosheid van sy mense. Tog breek daar ‘n straal van hoop deur die donker wolke van oordeel. Ragab, ‘n vrou sonder aansien in die oë van die wêreld, ontvang genade omdat sy gehoorsaam aan die God van Israel was.

Sy het in opdrag van die verspieders die rooi tou aan haar venster vasgebind. Daardie tou was nie net ‘n stuk tou nie; dit was haar lewenslyn, die simboliek van gehoorsaamheid aan die opdrag van die Here. Dit blyk baie duidelik uit die Bybel dat God gehoorsaamheid hoog ag.

Dink aan Samuel se waarskuwing aan koning Saul van Israel: “Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees, is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme” (1 Samuel 15:22, OAV).

Waarom is gehoorsaamheid so belangrik? Gehoorsaamheid is eerstens belangrik omdat dit eer aan God bewys en ons vertroue in sy almag. Dit stel mense ook in staat om by God aan te sluit en om deel te vorm van sy werke reg oor die wêreld. Gehoorsaamheid verdiep ook mense se geloof en maak hulle geestelik sterk.

Laastens stel gehoorsaamheid mense in staat om ‘n verhouding van eenheid met God te bou, omdat gehoorsaamheid die taal van liefde is. Gehoorsaamheid aan God sê: Nie my wil nie, maar U wil geskied! Dit is 'n wesenlike bewys van geloof, liefde en nederigheid teenoor God. Uiteindelik is gehoorsaamheid nie 'n rigiede nakoming van reëls nie, maar 'n reaksie op God se liefde. Jesus maak dit self duidelik dat as mense Hom liefhet “... sal julle My gebooie onderhou” (Johannes 14:15).

Net soos Ragab die rooi tou vasgemaak het, word ons ook daagliks geroep om ons gehoorsaamheid vas te knoop aan God wat ons nooit faal nie. Jou tou kan dalk ‘n moeilike besluit wees, ‘n gebed in die donkerste nag, of selfs die bereidwilligheid om iets aan God oor te gee.

Wat ook al jou situasie, vertrou dat die tou van gehoorsaamheid wat jou sterker aan Christus verbind, nooit sal breek nie, want Hy is die Een wat dit anker. Lewe jy in gehoorsaamheid aan God? Waar in jou lewe het jy nodig om jou lewe aan sy wil in gehoorsaamheid te onderwerp? Neem ‘n oomblik om hierdie areas aan God oor te gee.

Gebed

Here, U is die God wat met genade en hoop oordele in onmoontlike situasies oorbrug. Help my om U te gehoorsaam te midde van wanorde. Open my oë om u hoop en werk in my lewe raak te sien. Amen.

About this Plan

DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoop

Stap saam op 'n reis van 40 dae, waar die rooi draad van genade jou lei van Ragab se venster in Jerigo tot by die kruis op Golgota. Hierdie 40-dae plan onthul hoe God se genade geen grense het nie, en hoe geloof en gehoorsaamheid 'n hele nuwe bestemming kan skep.

More