YouVersion Logo
Search Icon

DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoopSample

DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoop

DAY 17 OF 40

Die beskerming van die bloed van Jesus

Ek het ‘n paar jaar gelede op die berg van versoeking gestaan, die plek waar Jesus na bewering deur die duiwel in die woestyn versoek is. Hierdie berg, wat reg langs die antieke stad Jerigo geleë is, het my aan die gebeure rondom Jerigo laat dink.

Terwyl ek daar gestaan het, het ek gewonder hoe angswekkend die paar weke voor die aanslag op Jerigo vir die inwoners moes gewees het. Wat eens ‘n veilige vesting was, het vir hulle ‘n bedreiging geword. In hierdie donker tyd was daar egter ‘n flikkering van hoop – die rooi tou van Ragab.

Hierdie tou, waartoe sy haar verbind het, was ‘n simbool van beskerming en ewige toevlug vir die mensdom. Jesus Christus is ons ewige toevlug – ‘n plek van skuiling en veiligheid, nie net vir ons fisieke lewens nie, maar ook vir ons siele. In die Bybel lees ons van die beskerming wat die bloed van die paaslam aan die Israeliete in Egipte gebied het.

Die bloed aan die deurposte het die doodsengel afgeweer en die lewens van die eerstelinge gespaar. Hierdie gebeure is ‘n duidelike voorafskadu van wat Jesus Christus aan die kruis vir ons volbring het. Soos die bloed van die paaslam die Israeliete van die dood gered het, so red die bloed van Jesus ons van die ewige dood.

Die bloed wat beskerm, is nie net 'n waarheid wat Ragab en Israel in die Eksodusverhaal ervaar het nie, maar 'n lewende werklikheid vir ons as gelowiges vandag. Bid dat die bloed van Jesus jou gesin en huis sal beskerm net soos die Israeliete die bloed van die paaslam gebruik het as teken van God se bewaring.

Gebed

Here Jesus, ek loof U dat U my toevlug en skuilplek is. Dankie vir u bloed wat vir my aan die kruis gevloei het wat my vrygemaak het van sonde, veroordeling en vrees vir die dood. Help my om elke dag in die vryskelding en sekerheid van u redding te leef. Amen.