YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 325 OF 364

Wat is die onderskeid tussen die ware en valse kerk? — 1 Timoteus 4:1-5

Paulus beskou die plaaslike gemeente as “die draer en beskermer van die waarheid” (3:15). Dit dui nie net op die waarheid van die evangelie nie, maar op die waarheid van Jesus Christus. Die gemeente is (letterlik vertaal): “die pilaar en grondslag van die waarheid” van Jesus Christus. Dit beteken alles en almal in die gemeente moet meewerk om die evangelie van Jesus Christus aan hierdie wêreld op ‘n egte en outentieke manier bekend te stel. Die waarheid van God se openbaring is op die spel.

1. Paulus wil hê dat die waarheid gekoester word, omdat die gevaar van afvalligheid so groot is. Hy help ons verstaan dat wat die dwaalleraars as ‘n diep waarheid verkondig — om jou van die huwelik en sekere kossoorte te weerhou — skynheilige misleidings blyk te wees. Dit is verdraaiings van die waarheid. Die gemeente moet hulle nie daardeur laat meesleur nie. Hoe sien jy dit raak in jou eie konteks?

2. Die bron van die dwaalleringe oor die huwelik en kos word as leerstellings van bose geeste uitgespel wat deur dwaalleraars verkondig word. Hoekom dink jy word die onsigbare geestelike kant van die dwaalleringe beklemtoon?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner dat jy as deel van die gemeente ‘n draer en beskermer van die waarheid in die Skrif moet wees. Wees prakties in jou nadenke hieroor en dink oor hoe jy dit kan uitleef.

4. Jy kan later vanaand die verse weer in die konteks van 1 Timoteus 3:14-4:16 lees met die tema: Die gemeente as draer en beskermer van die waarheid.

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More