YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 230 OF 364

Wat is die verskil tussen verlossing en heiliging? — Die belydenisskrifte

1. Lees die aanhalings uit die Nederlandse Geloofsbelydenis 23, die Heidelbergse Kategismus 58 tot 61, die Dordtse Leerreëls 5.1.1-2, 7, 15 en die Westminster Geloofsbelydenis 12-13. Wat leer jy oor die verlossing en heiliging? Wat beteken dit vir jou? Wat vra dit van jou?

Nederlandse Geloofsbelydenis 23

ONS GEREGTIGHEID VOOR GOD

Ons glo dat ons geluksaligheid geleë is in die vergewing van ons sondes om Jesus Christus ontwil en dat ons geregtigheid voor God daarin bestaan. Dit leer Dawid en Paulus ons deur te verklaar dat die mens se geluksaligheid daarin bestaan dat God hom die geregtigheid buite die wetsonderhouding om toereken (Psalm 32:2 en Romeine 4:6). Dieselfde apostel sê dat ons verniet, dit wil sê uit genade, geregverdig is deur die verlossing wat in Jesus Christus is (Romeine 3:24). Ons hou daarom hierdie grondslag altyd vas: Ons gee aan God al die eer, verneder ons voor Hom, erken dat ons is wat ons is, en roem glad nie in onsself of in ons verdienste nie, maar maak staat en steun op die gehoorsaamheid van die gekruisigde Christus alleen. Hierdie gehoorsaamheid is ons eie as ons in Hom glo; dit is ook genoegsaam om al ons ongeregtighede te bedek en die gewete van vrees, verbystering en skrik te bevry en om ons vrymoedigheid te gee om na God te gaan, terwyl ons nie handel soos ons eerste vader, Adam, wat al bewende probeer het om hom met vyeblare te bedek nie.

Waarlik, as ons voor God moes verskyn terwyl ons, in watter geringe mate ook al, op onsself of op enige ander skepsel sou staatmaak, sou ons — helaas! — verteer moes word. En daarom moet elkeen saam met Dawid sê: "Moet tog nie 'n regsaak teen my begin nie, want niemand wat leef, is voor U onskuldig nie!" (Psalm 143:2).

Hebreërs 11:7; Efesiërs 2:8; 2 Korintiërs 5:19; 1 Timoteus 2:6; 1Johannes 2:1; Genesis 3:7 (Romeine 5:19); Romeine 4:6; Handelinge 4:12; Esegiël 36:23, 32; Deuteronomium 27:26; Jakobus 2:10; Psalm 143:2; Lukas 16:15; Job 1; 1 Korintiërs 4:4; Psalm 18:28; Sefanja 3:11; Hebreërs 10:20.

Heidelbergse Kategismus 59-61

Sondag 23

59 Vraag: Maar wat baat dit jou nou dat jy dit alles glo?

Antwoord: Dat ek in Christus voor God geregverdig en 'n erfgenaam van die ewige lewe is (a).

(a) Habakuk 2:4; Romeine 1:17; Johannes 3:36.

60 Vraag: Hoe is jy regverdig voor God?

Antwoord: Slegs deur 'n ware geloof in Jesus Christus (a); so dat al kla my gewete my aan dat ek teen al die gebooie van God swaar gesondig het en nie een daarvan gehou het nie (b) en dat ek nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is (c), God nogtans (d) aan my sonder enige verdienste van my kant (e), uit louter genade (f) die volkome genoegdoening (g), geregtigheid en heiligheid van Christus skenk (h). Dit reken Hy my toe asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie, asof ek self al die gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir my volbring het (i). Aan hierdie weldaad het ek deel vir sover ek dit met 'n gelowige hart (j) aanneem.

(a) Romeine 3:21, 22, 24; 5:1, 2; Galasiërs 2:16; Efesiërs 2:8, 9; Filippense 3:9. (b) Romeine 3:9. (c) Romeine 7:23. (d) Romeine 4:4; 2 Korintiërs 5:19. (e) Titus 3:5; Deuteronomium 9:6; Esegiël 36:22. (f) Romeine 3:24; Efesiërs 2:8. (g) 1 Johannes 2:2. (h) 1 Johannes 2:1. (i) 2 Korintiërs 5:21. (j) Romeine 3:22; Johannes 3:18.

61 Vraag: Waarom sê jy dat jy slegs deur die geloof regverdig is?

Antwoord: Nie dat ek op grond van die waarde van my geloof vir God aanneemlik is nie, maar omdat slegs die genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus my geregtigheid voor God is (a). En dit kan ek nie anders as slegs deur die geloof aanneem en my eie maak nie (b).

(a) 1 Korintiërs 1:30; 2:2. (b) 1 Johannes 5:10.

Dordtse Leerreëls 5.1.1-2, 7, 15

DIE VOLHARDING VAN DIE HEILIGES

1. Hulle wat God na sy voorneme tot die gemeenskap van sy Seun, ons Here Jesus Christus, roep en deur die Heilige Gees wederbaar, verlos Hy wel van die heerskappy en slawerny van die sonde. Tog verlos Hy hulle in hierdie lewe nie heeltemal van hulle sondige natuur en bestaan nie.

2. Hieruit ontstaan die daaglikse sondes van swakheid, en selfs die allerbeste werke van die heiliges is nog gebrekkig. Daarom moet hulle hulle voortdurend voor God verootmoedig, hulle toevlug tot die gekruisigde Christus neem, die sondige natuur hoe langer hoe meer doodmaak deur die Gees van die gebed en heilige geloofshandelinge, en vurig na die bereiking van die volmaaktheid verlang. So moet hulle volhard totdat hulle, losgemaak van hierdie sterflike liggaam, met die Lam van God in die hemel regeer.

7. Wanneer hulle so in die sonde val, bewaar God eerstens in hulle sy onverganklike saad waaruit hulle weergebore is, sodat dit nie vergaan of vernietig word nie. Tweedens vernuwe Hy hulle deur sy Woord en Gees seker en kragtig tot bekering. Die gevolg is dat hulle oor die sondes wat hulle gedoen het van harte en volgens die wil van God berou het en deur die geloof, met 'n gebroke hart, vergifnis in die bloed van die Middelaar begeer en verkry. So besef hulle weer die genade van God wat nou met hulle versoen is, aanbid hulle sy ontferming en trou om daarna met groter ywer hulle eie heil met vrees en bewing uit te werk.

15. Hierdie leer van die volharding van die ware gelowiges, dit wil sê die heiliges, en van die sekerheid daaroor, het God tot eer van sy Naam en tot troos van die gelowiges uitvoerig in sy Woord geopenbaar en in die harte van die gelowiges ingeprent. Die sondige natuur verstaan hierdie leer nie, die Satan haat dit, die wêreld bespot dit, onkundiges en huigelaars misbruik dit en dwaalgeeste bestry dit. Die Bruid van Christus het dit egter altyd as 'n skat van onberekenbare waarde innig liefgehad en dit volhardend verdedig. God sal sorg dat die kerk dit ook in die toekoms doen. Teen God kan geen beplanning stand hou nie, nog minder kan geweld iets teen Hom vermag. Aan hierdie enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, kom toe eer en heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Westminster Geloofsbelydenis 12-13

Hoofstuk 12

Aanneming

1. God waarborg die aanneming van almal wat geregverdig is in en ter wille van sy enigste Seun, Jesus Christus.1 Diegene wat aangeneem is geniet die vryhede en voorregte van God se kinders, 2 laat sy naam aan hulle heg, 3 ontvang die Gees van aanneming, 4 het toegang tot die troon van genade met vrymoedigheid, 5 en word in staat gestel om te roep, Abba, Vader. 6 Hulle word bejammer, 7 beskerm, 8 voor voorsien, 9 en deur hom as vader gedissiplineer. 10 Hulle word nooit gewerp nie 11 en is verseël tot die dag van verlossing 12 en erf die beloftes 13 as erfgename van ewige verlossing. 14

1. Efesiërs 1.5, Galasiërs 4.4-5.

2. Romeine 8:17, Johannes 1,12.

3. Jeremia 14.9, 2 Korintiërs 6.18, Openbaring 3.12.

4. Romeine 8.15.

5. Efesiërs 3.12, Romeine 5.2, Hebreërs 4.16.

6. Galasiërs 4.6.

7. Psalm 103.13.

8. Spreuke 14,26, Psalm 27,1-3.

9. Matteus 6.30,32, 1 Petrus 5.7.

10. Hebreërs 12.6.

11. Klaagliedere 3:31-32, Hebreërs 13,5.

12. Efesiërs 4,30.

13. Hebreërs 6.12.

14. 1 Petrus 1.3-4, Hebreërs 1.14.

Hoofstuk 13

Heiligmaking

1. Diegene wat effektief geroep en wedergebore is, het 'n nuwe hart en 'n nuwe gees in hulle geskep. Hulle word boonop geheilig, werklik en persoonlik, deur die krag van Christus se dood en opstanding en deur sy Woord en Gees wat in hulle woon. 1 Die mag van sonde wat oor die hele liggaam heers word vernietig, 2 en die begeertes van die ou self word meer en meer verswak en gedood. 3Terselfdertyd word die vermoë om ware heiligheid te beoefen, waarsonder niemand die Here sal sien nie, 4 tot lewe gebring en versterk deur al die reddende genade. 5

1. 1 Korintiërs 6.11, Handelinge 20.32, Filippense 3.10, Romeine 6.5-6, Johannes 17.17,19, Efesiërs 5.26, 2 Tessalonisense 2.13, 1 Korintiërs 1.30.

2. Romeine 6.6,14.

3. Galasiërs 5.24, Romeine 8.13, Kolossense 3.5.

4. 2 Korintiërs 7.1, Hebreërs 12.14, Kolossense 1.28, 4.12.

5. Kolossense 1.10-11, Efesiërs 3.16-19, 2 Petrus 3.13-14.

2. Hierdie heiligmaking werk in die hele mens, 6 maar nie heeltemal of volmaak in hierdie lewe nie. Die ou sondige natuur behou van sy beheer in liggaam, verstand en gees. En so gaan 'n voortdurende en onversoenbare oorlog in elke gelowige aan. Die ou natuur probeer sy sin kry in opposisie met die Gees, en die Gees veg om sy gesag oor die vlees te laat geld. 7

6. 1 Tessalonisense 5.23.

7. 1 Johannes 1.10, Romeine 7.18,23, Filippense 3.12, Galasiërs 5.17, 1 Petrus 2.11.

3. Alhoewel die ou natuur tydelik gevegte wen in hierdie oorlogvoering, 8 stel die voortdurende versterking van die heiligmakende Gees van Christus die wedergebore natuur in elke gelowige in staat om te oorwin. 9 En so groei die heiliges in genade, 10 vervolmaak heiligheid in die vrees van God. 11

8. Romeine 7:23.

9. Romeine 6.14, 1 Johannes 5.4, Efesiërs 4.15-16.

10. 2 Petrus 3.18, 2 Korintiërs 3.18.

11. 2 Korintiërs 7.1.

2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid en insig wat die geloofsbelydenisse jou gee oor die verlossing en heiliging.

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More